Suid-Afrikaanse kinders gaan hierdie jaar twee of meer maande van skool misloop as gevolg van die staat van inperking, en dus gaan hulle geen skoolsport beoefen nie, terwyl ander fisiese aktiwiteite ook grootliks beperk is. Hierdie passiwiteit, saam met eetpatrone wat aan ’n lewe tydens die staat van inperking gekoppel is, kan ’n onwelkome uitwerking op kinders se gesondheid hê.Kinders uit lae-inkomstegesinne kan die ergste geraak word, veral as finansiële probleme huishoudings onder die broodlyn laat inbeweeg. Die pandemie hou egter leefstylverwante gesondheidsrisiko’s vir kinders van meer welvarende gesinne ook in.
Prof Salome Kruger van die Sentrum vir Uitnemendheid vir Voeding in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe sê dat ’n studie wat uitgevoer is om te bepaal wat kinders eet en hoe fisiek aktief hulle is, het ’n paar kommerwekkende resultate opgelewer. Die studie is onder kinders tussen die ouderdom van vyf en nege jaar in die Kenneth Kaunda-distrik uitgevoer.
“Feitlik die helfte van die kinders was uit lae-inkomstehuishoudings. Hoewel die meeste kinders ’n normale gewig gehad het, was ongeveer 15% oorgewig, 4,4% was vetsugtig en 3,8% was ondergewig.”
Prof Kruger sê dat die resultate toon dat ’n lae inkomste huishoudings se toegang tot duur voedingryke kos soos vleis, suiwelprodukte en vrugte beperk. Hierdie voedsel verskaf proteïen, yster en kalsium vir die ontwikkeling en groei van kinders.
“Ongelukkig het kinders uit lae-inkomstehuishoudings meer dikwels goedkoper southappies en kitskos geëet as kinders uit hoë-inkomstehuishoudings. Hierdie voedsel verskaf kleiner hoeveelhede sleutelvoedingstowwe en te veel vet, suiker en sout.”
Hoër inkomste, gesonder kos
Die studie toon dat kinders uit huishoudings met ’n hoër inkomste meer van sommige van die gesonde voedselgroepe, naamlik vrugte, vleis en melk, ingeneem het, maar nie meer dikwels as kinders uit lae-inkomstehuishoudings groente geëet het nie.
Sy sê dat kinders wat gereeld lekkers eet, minder dikwels groente eet, en diegene wat meer dikwels koeldrank drink, minder gereeld vrugte eet. Kinders uit lae-inkomstegroepe het gereeld tee met suiker gedrink, terwyl dié uit hoë-inkomstegroepe meer dikwels koeldrank gedrink het.
“Laasgenoemde groep was meer oorgewig of vetsugtig as die kinders uit die lae-inkomstegroep. Aan die ander kant was kinders met hoër fiksheidsvlakke en dié wat meer dikwels vrugte en groente geëet het gewoonlik minder oorgewig of vetsugtig. Hierdie resultate beklemtoon die voordele van gereelde fisieke aktiwiteit en fiksheid om te voorkom dat kinders vetsugtig raak.”
Staat van inperking beperk aktiwiteite
Om vir twee maande of meer nie skool toe te gaan nie, beteken minder fisieke aktiwiteit vir talle kinders, en dit kan ook daartoe lei dat hulle uit verveling peusel.
Prof Kruger waarsku dat ouers in die versoeking kan kom om vir verveling te kompenseer deur meer lekkers en peuselhappies te koop, of om spesiale lekkernye vir die gesin te bak.
“In plaas daarvan sal dit ’n goeie idee wees om kinders by kosmaak te betrek en met nuwe en interessante gesonde geregte vorendag te kom.”
Prof Kruger raai gesinne aan om aktief te bly deur interessante stap- of fietsrygeleenthede te beplan. Sy sê die vermyding van verveling – wat tot ongesonde eetgewoontes kan lei – is die sleutel vir ouers om te verseker dat kinders aktief en gemotiveerd bly.
Sy sluit af deur te sê dat dit ook ’n ideale geleentheid is om groentetuine tuis te begin, wat ’n goedkoop manier kan wees om nie net verveling teë te werk nie, maar om gesonder eetgewoontes aan te moedig.
“Groente wat in die laat herfs en vroeë winter geplant kan word, sluit in spinasie, kopkool, brokkoli, blomkool, grasuie, ertjies, wortels en beet, asook kruie soos pietersielie en kruisement. Soek na sonnige plekke wat teen die koue wind beskerm is om die groente te plant.”
Prof Salome Kruger.