Hoe bruin seewier en gebruikte oestersampioensubstraat vir hoendervoer gebruik kan word

Een van die grootste uitdagings wat Afrika in die gesig staar, is voedselsekerheid. Dr Godfrey Mhlongo, ’n onlangse PhD-gegradueerde in dierewetenskap aan die Noordwes-Universiteit (NWU), glo dat inheemse hoenders, bruin seewier en oestersampioensaad kan help om die vasteland te voed en die omgewing te bewaar.   

Hy het navorsing uitgevoer oor die gebruik van oestersampioene om die benutting van bruin seewier in die voer van inheemse hoenders te optimaliseer.

“My studie het gefokus op die intensifisering van die voer van inheemse hoenders, aangesien hulle oorskadu word deur uitheemse braaikuikens en lêhoenders omdat die inheemse hoenders ’n laer voedingsdoeltreffendheid en laer produktiwiteit het,” verduidelik dr Mhlongo. “Dit het ’n ondersoek van nuwe en kostedoeltreffende bestanddele vir voer, soos seebamboesmeel, genoodsaak.”

Seebamboesmeel (SBM) is ryk aan natuurlike bioaktiewe chemiese stowwe, insluitende proteïne, essensiële aminosure, polisakkariede, poli-onversadigde vetsure, vitamines, minerale en antioksidante, en pigmente soos karotenoïede en chlorofil. SBM, wat bekend is vir sy antioksidante, antifungi-, anti-inflammatoriese en antivirale eienskappe, het die potensiaal om die produksie en gesondheid van pluimvee ’n hupstoot te gee.  

Voerproefnemings lewer wonderlike resultate

Die breë doelwit van die studie was om die potensiaal van oestersampioensaad (miseliumproduserende lignienafbrekende ensieme) te evalueer om die voedings- en voerwaarde van SBM in die dieet van Boschveldhaantjies te bevorder.

Twee voerproefnemings is as deel van die navorsingsprojek uitgevoer en die resultate van die eksperimente is in die hoë-impakfaktor vaktydskrifte Poultry Science en Scientific Reports gepubliseer.

In die eerste voerproefneming het die insluiting van SBM by die haantjies se dieet hulle algehele voerinname verbeter en sekere bloedparameters gewysig, maar nie hulle groeimetings beïnvloed nie.

In die tweede voerproefneming is oestersampioensaad bygevoeg om die negatiewe uitwerking van vesel teen te werk en die groeimetings te verbeter. 

“Die resultate van die tweede voerproefneming het gedemonstreer dat voer wat seebamboesmeel met gebruikte oestersampioene bevat die oorkoepelende groeimetings en die slag- en borsgewig by Boschveld-haantjies verbeter het,” sê dr Mhlongo.   

Hy sê dat die gebruik van SBM met gebruikte oestersampioensubstraat daartoe kan lei dat daar minder op konvensionele voerstowwe soos mielies en sojabone staatgemaak word. Laasgenoemde vereis groot grondoppervlaktes vir die kweking daarvan en het ’n negatiewe impak op die omgewing, soos water- en lugbesoedeling en grondegradasie.
“Hierdie benadering kan dus ’n bydrae lewer om teen ’n laer koste in die toenemende vraag na diereproteïene te voorsien,” sluit hy af.

Dr Godfrey Mhlongo.

Submitted on Wed, 07/31/2024 - 12:18