Hartseer en oorwinning vir NWU Eagles

Hartseer. ’n Allesoorheersende hartseer. ’n Hartseer wat voel soos wanneer jou enigste ware liefde jou die oggend voor die matriekafskeid afsê.

Jammer vir hierdie oordrywing, maar dit is hoe die meeste van die NWU Eagles se ondersteuners sou gevoel het nadat die Eagles in die openingswedstryd van die Varsitybekerwedstryd in Potchefstroom met 26–35 teen die Ikeys van die UK verloor het.  Die Ikeys het die drie waarmee hulle die wedstryd gewen het in die laaste minuut van die wedstryd gedruk toe Duran Koevort die beslissende punte aangeteken het.

Die Eagles was rustyd met 26–14 voor en daar was twee drieë deur Heinz Bertram en Riaan Genis, met Nivan Petersen wat twee doelskoppe en vier strafskoppe deur die pale geklits het. Petersen is ook as FNB se Player that Rocks aangewys.

Dit sal egter baie min troos bied vir ’n span wat altyd op kritieke tye deur die Ikeys ore aangesit is.

Dit was egter nie alles wanhoop en vertwyfeling nie, aangesien hulle ook ’n gelukkie uit die Wes-Kaap ontvang het. Die Eagles was op Maandag 22 Februarie in ’n verwoestende bui op die Fanie de Toit-sportterrein in Potchefstroom toe hulle die UWK (Universiteit van Wes-Kaapland) met 40–19 gewen het.

Die Eagles was rustyd met 21–19 voor en die besoekers kon daarna nie weer punte aanteken nie. Heinz Bertram en Riaan Genis het elkeen weer ’n drie gedruk, maar hierdie keer het Vernon Paulo, Ruben du Plessis en Pienaar van Niekerk by hom aangesluit. Nivan Petersen het drie drieë verdoel, Martin Venter het ’n doelskop van sy eie asook ’n strafskop bygevoeg.  

Die Eagles se volgende uitdaging is op 28 Februarie teen UJ in Johannesburg.

Submitted on Mon, 02/28/2022 - 14:17