HART by die NWU bevorder gesonde bloeddruk

Bloed is die lewegewende stof wat deur ons are vloei, maar as die druk in ons are te hoog word kan dit ons gesondheid benadeel.  Dit is waarom die Hipertensie in Afrika Navorsingspan (HART) in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) gedurende die hele Meimetingsmaand (MMM) en op Wêreldhipertensiedag op 17 Mei bloeddrukbewustheid en ‑meting aktief bevorder.

HART ondersteun die 2022 Meimetingsmaand-inisiatief deur verskeie projekte wat spesifiek daarop gerig is om die algemene publiek aan te moedig om hulle bloeddruk te laat meet. Hierdie sifting is ’n gratis diens wat die ideale geleentheid verskaf om uit te vind wat jou bloeddrukvlak is en hoe jy kan voorkom dat jy nog ’n dodelike hipertensiestatistiek word.

Die aktiwiteite van HART is geskeduleer om gedurende Meimaand by verskillende lokale in Mahikeng, Potchefstroom en die Vaaldriehoek plaas te vind.

HART sal net soos verlede jaar siftings by verskillende lokale op en om die NWU se kampusse aanbied.

Prof Carina Mels, direkteur van HART, sê dit is belangrik vir mense in alle dele van Suid-Afrika om hulle bloeddruk te laat meet. Hipertensie is ’n stille moordenaar en wêreldwyd die vernaamste oorsaak van sterftes wat voorkom kan word. As jy weet wat jou bloeddrukstatus is, kan jy aktief mediese ingryping soek as dit nodig is.  Die meeste mense is nie bewus van die feit dat hul bloeddruk verhoog is nie totdat hulle groot en meestal onomkeerbare gesondheidsimplikasies ervaar.

“Jy kan uitvind waar jy jou kan laat toets deur https://maymeasure.org te besoek.   Jy kry hier ’n interaktiewe kaart wat aantoon waar jou plaaslike siftingsentrum is en ook hoe jy jouself selfs tuis kan toets.”

Meer oor MMM

2022 is die vyfde jaar waarin die Internasionale Vereniging vir Hipertensie (ISH) die wêreldwye Meimetingsmaand aanbied – ’n wêreldwye veldtog wat ten doel het om mense van hoë bloeddruk bewus te maak.  

Vanjaar vind die veldtog vanaf 1 Mei tot 31 Augustus 2022 plaas en bou dit voort op die gevestigde Wêreld Hipertensiedag van die Wêreld Hipertensieliga (WHL).

Hierdie jaar se tema is #THEBIGSQUEEZE, met meer as tagtig lande wat bevestig het dat hulle by die inisiatief betrokke gaan wees.

Volgens die ISH word daar beraam dat in Suid-Afrika alleen een uit elke drie volwassenes verhoogde bloeddruk het. Die feit dat die meeste mense met hipertensie heeltemal onbewus is daarvan en dit onbehandeld gelaat word dra by tot die probleem. In sommige gevalle is daar mense op behandeling wat nie hulle toestand doeltreffend beheer nie.  Omdat die toestand geen waarneembare simptome het nie is bloeddrukmeting die enigste akkurate manier om hipertensie te identifiseer.

Vrywilligers sal vanaf die begin van Mei die bloeddruk van mense in hulle stede, dorpe en klein dorpies regoor die wêreld meet. Prof Mels sê dat HART trots is daarop om deel van Meimetingsmaand in Suid-Afrika te wees. “Neem asseblief deel aan #THEBIGSQUEEZE vanjaar. As jy weet wat jou bloeddrukvlakke is, kan ons vir jou raad gee oor wat jou te doen staan.”

Meet jou bloeddruk op hierdie dae:

Welstandsdag (Wellness Day) op die kampus in Mahikeng – 11 Mei

Welstandsdag op die kampus in Potchefstroom – 13 Mei

Amfiteater op die kampus in Potchefstroom – 16 Mei

Ikageng Mall – 9, 10, 13, 17, 20, 23, 24, 27 Mei

Opedag op die kampus in Potchefstroom – 21 Mei

Welstandsdag op die kampus in Vanderbijlpark – 27 Mei

Gereformeerde Kerk Potchefstroom se basaar – 28 May

Vir meer inligting oor verdere sifting in en om Potchefstroom, Mahikeng en Vanderbijlpark, kontak asseblief vir Carina.Mels@nwu.ac.za

Submitted on Fri, 04/29/2022 - 13:03