’n Gegradueerde van die Noordwes-Universiteit (NWU) bring eeue oue kennis van plante en die jongste nanotegnologie bymekaar om die meeste uit plantekstrakte te haal.Volgens ’n nasionale nanotegnologie-inisiatief van die Verenigde State is nanotegnologie tans besig om ’n omwenteling in die tegnologie- en bedryfsektore teweeg te bring. Dit sluit onder talle ander dinge inligtingstegnologie, binnelandse veiligheid, medisyne, vervoer, energie, voedselveiligheid en omgewingswetenskappe in.
MSc-gegradueerde Pule Silent Seboletswe het onlangs navorsing gedoen oor die manier waarop nanotegnologie kan help om oplossings te kry vir probleme wat met die gebruik van natuurlike produkte vir terapeutiese doeleinders verband hou.
Die titel van sy navorsingstudie was “Nanoformulation of protorhus longifolia extracts and their biological evaluation”.
Protorhus longifolia, of die rooiboekenhout soos dit algemeen bekend is, is ’n immergroenboom van die mangofamilie. Dit word tot 15 meter hoog en word van Limpopo tot in die Oos-Kaap aangetref.
“Dit is ’n Suid-Afrikaanse medisinale plant wat interessante biologies-aktiewe verbindings het en tradisioneel gebruik word om verskillende kwale soos hemiplegiese verlamming, sooibrand, maagbloeding, siektes wat met bloedstolling verband hou, en hartwater, disenterie en diarree by beeste te behandel,” sê Pule.
Hy sê dat die plant biologiese aktiwiteite het en ’n teenmiddel is vir hiperglukemie (hoë bloedsuiker) en bloedplaatjiesaampakking, en dat dit antihiperlipidemiese, antimikrobiese en anti-oksidanteienskappe bevat.
Die probleem is dat hierdie voordele nie maklik verkry kan word nie, aangesien die meeste bestaande plantekstrakte swak geformuleer is.
Ekstraksie met die maksimum voordele
“Die meeste van die plantekstrakte is onsuiwer preparate met groot hidrofobiese fitosamestellings, wat beperkings het soos swak oplosbaarheid in waterige mediums, swak lipiedoplosbaarheid, swak stabiliteit, toksisiteit, ’n ontoepaslike groter molekuulgrootte, en lae absorpsie en biobeskikbaarheid wat uiteindelik swak biologiese aktiwiteit of verlaagde doeltreffendheid tot gevolg het,” verduidelik dr Zimbili Mkhize, Pule se studieleier vir sy meestersgraad.
“Dit is waarom daar ’n behoefte is om die beperkings wat plantekstrakte inhou, te verminder. Die groter ontwikkeling in nanotegnologie kan help om oplossings te vind vir probleme wat met die gebruik van natuurlike produkte vir terapeutiese doeleindes verband hou,” voeg dr Mkhize by.
Volgens Pule kan nanogestruktureerde stelsels die werking van die biologiese aktiwiteite van plantekstrakte verhoog.
Die doel van hierdie studie was dus om met behulp van hoëprestasie-dunlaagchromatografie (HPTLC) vir fitochemikalieë te toets wat in die metanoliese ekstrak van die Protorhus longifolia teenwoordig is, en om polimeriese nanodeeltjies van die ekstrak met behulp van Eudragit-S100 voor te berei om die anti-oksidant- en antimikrobiese aktiwiteite daarvan te verhoog.
“Die resultaat wat in hierdie studie verkry is, het getoon dat die nanoformulering van plantekstrakte noodsaaklik is om hulle biologiese aktiwiteite te versterk, wat belangrik is omdat plantekstrakte moontlike alternatiewe is om verskeie siektes mee te behandel,” sê Pule.
Pule het tydens sy MSc-studies ’n opleidingskursus oor CAMAG-dunlaag-/planare chromatografie in Muttenz, Switserland bygewoon. Hy het ook referate by twee konferensies in Suid-Afrika en een in Thailand aangebied.
Pule Seboletswe.