ʼn Nuwe Afrika-brulpadda-spesie is in die noordooste van Namibië, die suide van Angola, die suidweste van Zambië en die noordweste van Botswana ontdek.
Dit is die grootste paddaspesie wat in meer as 100 jaar ontdek is.
Die grootste eksemplaar wat al gevind is, is 210 millimeter lank en weeg ʼn allemintige 1 kilogram.
Eers was daar drie, nou is daar vier. Professor Louis du Preez, van die Noordwes-Universiteit (NWU) in Suid-Afrika, en sy span navorsers het ʼn nuwe Afrika-brulpadda-spesie genaamd Pyxicephalus beytelli ontdek. Dit is maar die vierde brulpaddaspesie wat al ooit in Suider-Afrika geïdentifiseer is.
Die spesie kom voor in dele van die noordooste van Namibië, die suide van Angola, die suidweste van Zambië en die noordweste van Botswana, en is vernoem na wyle Ben Beytell, Direkteur van Parke en Natuurlewebestuur in Namibië, wat instrumenteel was in die proklamasie van die Khaudum Nasionale Park in Namibië, waar die spesie voorkom.
Die nuwe spesie is soortgelyk aan alle ander brulpaddaspesies wat eksterne struktuur, interne anatomie en algemene gedrag betref. Twee van die belangrikste onderskeidende kenmerke van Pyxicephalus beytelli is egter sy heldergeel en lemmetjiegroen kleur, blou kolle en ʼn wit vertebrale streep wat langs sy liggaam afloop. Dan is daar sy prominente en ietwat vreesaanjaende tande, wat teruggekrom is, en twee groot benige uitsteeksels op die onderkaak.
“Hul tande staan regtig uit, en ons sien daarna uit om meer oor hul voedingsgewoontes te wete te kom. Ek kan jou verseker dat hierdie padda ʼn groot byt het,” sê Du Preez. Brulpaddas het ʼn gevarieerde dieet wat muise, klein voëltjies, slange, insekte en selfs ander paddas insluit.
Du Preez en ʼn oud-student, Marleen Byron, het die brulpadda 12 jaar gelede vir die eerste keer in die Okavango teëgekom en dadelik besef "daar is iets anders aan hierdie padda". Du Preez is in 2021 deur die Namibiese Natuurstigting genader om ʼn opname van amfibieë en reptiele in die Khaudum Nasionale Park te doen. “Toe ek weer die brulpadda sien, het ek geweet dit is die een wat ek ʼn dekade vantevore gesien het.”
ʼn Deeglike en moeisame proses het toe begin, waarin die monsters wat versamel is noukeurig ondersoek en vergelyk is met bestaande bekende spesies.
Du Preez skryf die laat ontdekking van Pyxicephalus beytelli toe aan sy habitat. “Sommige van die plekke waar Pyxicephalus beytelli gevind kan word, is baie moeilik bereikbaar. Hierdie plekke is afgeleë en jy moet ruwe terrein oorsteek om daar uit te kom. Mense het ook nie besef dat dit ʼn ander spesie was nie.”
Vanuit ʼn bewaringsperspektief is die identifikasie van nuwe spesies van kardinale belang om hul beskerming te verseker.
“Paddas het ongeveer 350 miljoen jaar gelede op die toneel verskyn en van daar af gediversifiseer Vandag is hulle die mees bedreigde groep gewerwelde diere in die wêreld. ʼn Groot rede hiervoor is die vernietiging van hul natuurlike habitat. Hoe meer ons van ʼn spesie weet, soos waar hulle voorkom en hoe ver hulle rondbeweeg, hoe beter kan ons dit beskerm. "Ons besef gewoonlik eers wat ons verloor het nadat ʼn spesie reeds uitgesterf het," sê Du Preez “Daar is nog baie om oor hierdie nuwe spesie te wete te kom, en dit sal pret wees om uit te vind.”