Groot toekenning vir Janneman Malan

Aanvangskolwer Janneman Malan en sy kanonkolf is deur die Internasionale Krieketraad vir sy lopie-oes aan die top van die Proteas se eendag-kolforde beloon deur as dié organisasie se Opkomende Manspeler van die Jaar 2021 aangewys te word.

Dié 25-jarige boorling van Mbombela en voormalige steunpilaar vir die Noordwes-Universiteit tydens ʼn glorietydperk, het in 14 eendagwedstryde vir die Proteas 759 lopies teen ʼn gemiddelde van 69 en ʼn kolftempo van 90,03 aangeteken. Dit sluit drie honderdtalle en drie vyftigtalle in. In die pas voltooide eendagreeks teen Indië, wat die Proteas met 3–0 gewen het, was Malan dalk nie op sy verwoestende beste nie, tog het hy in die tweede kragmeting in die Paarl 91 aangeteken, wat die Proteas in staat gestel het om Indië se telling van 287/6 relatief gemaklik verby te steek.

Sy vennoot wat saam met hom die glans van die bal moes afhaal, Quinton de Kock, is daardie dag as Speler van die Wedstryd aangewys vir sy 78 lopies van 66 aflewerings. Die vuurvreterpaaltjiewagter is ook as die Speler van die Reeks aangewys.

Benewens sy prestasies in die eendagarena het Malan het ook reeds 241 lopies in 11 T20-wedstryde gemoker.   

Submitted on Thu, 01/27/2022 - 09:15