Drie ranglyste bevestig dat die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n instelling is wat skitter, nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal, en dat hulle hulleself onder van die wêreld se beste universiteite kan reken.
Studente kan verseker wees dat wanneer hulle op die NWU as hulle voorkeurkeuse vir hoër onderwys besluit, hulle ook ’n universiteit kies wat nie net vir uitnemendheid bekend is nie, maar wat ’n impak maak deur belangrike kwessies in Afrika te hanteer.
Dit is duidelik in die Sub-Saharan Africa (SSA) University Rankings 2024 deur Times Higher Education (THE). Volgens hierdie ranglys is die NWU sesde in Suid-Afrika en 17de in Afrika uit 129 universiteite van 22 lande. Hierdie ranglyste evalueer spesifiek die impak wat universiteite het om van die moeilikste uitdagings te hanteer wat hierdie streek ervaar. Dit gee oorweging aan onder andere die impak wat ’n universiteit in Afrika het, asook faktore soos studentebetrokkenheid, toegang en billikheid, en etiese leierskap.
Dit ondersoek temas wat universiteitsopvoeding, die gehalte van onderrig, finansiële sterkte en die hantering van ongelykheid insluit. Volgens die SSA evalueer die rangslyste nie net huidige prestasie nie, maar help ook universiteite om die sleutelareas te identifiseer waar hulle kan verbeter. Dit was die eerste jaar dat die NWU aan die SSA-graderings deelgeneem het. Vir meer inligting oor die SSA, besoek https://www.timeshighereducation.com/sub-saharan-africa-university-rank….
Aan die voorpunt van maatskaplike en omgewingsvolhoubaarheid
Die NWU is onder die voorste hoëronderwysinstellings plaaslik en in Afrika wat betref hulle reaksie op dwingende omgewings-, maatskaplike en beheerkwessies. Dit is volgens die Quacquarelli Symonds (QS) World University Rankings for Sustainability 2025. QS het hulle resultate op 10 Desember gepubliseer.
Hierdie ranglys plaas die NWU onder die topsewe uit 13 universiteite in Suid-Afrika, topagt in Afrika uit 70 instellings op die vasteland, en algeheel 505de uit die 1 751 instellings wat internasionaal vir die gradering kwalifiseer.
Die drie prestasielense wat in elkeen van die drie kategorieë toegepas word, is omgewingsimpak, maatskaplike impak en beheer. Elke prestasielens bestaan uit afsonderlike aanwysers wat gebruik word om ’n telling te bereken.
Die NWU was 176ste vir Beheer, 524ste vir Maatskaplike Impak, en 637ste vir Omgewingsimpak.
Volgens die QS World University Rankings for Sustainability in 2025 moet universiteite vir die QS World University Rankings en die QS Rankings volgens streek of die QS Rankings volgens vak kwalifiseer om ’n plasing ten opsigte van volhoubaarheid te ontvang.
Vir meer inligting oor die QS World University Rankings for Sustainability 2025, besoek https://www.topuniversities.com/sustainability-rankings.
NWU blink uit deur navorsing en innovasie in Afrika
Die 2024 SCImago Institutions Rankings laat die klem val op Afrika-universiteite wat in navorsingsuitset, maatskaplike impak en innovasie uitgeblink het. Hierdie ranglys het die NWU in die top-10 op sy ranglys geplaas – ’n betekenisvolle prestasie, aangesien 283 universiteite vir die ranglys oorweeg is.
Die ranglys plaas die NWU algeheel 25ste in hulle universiteit-kategorie.
SCImago se drie verskillende stelle aanwysers (20 in totaal) word in drie groepe verdeel wat ten doel het om wetenskaplike, ekonomiese en maatskaplike eienskappe van instellings te weerspieël soos dit in hulle websigbaarheid gemeet word. Vir meer inligting oor hierdie ranglys, besoek https://www.scimagoir.com/rankings.php?country=Africa.