Dit is goeie nuus vir besighede en verbruikers dat die repokoers op 21 November eenparig met 25 basispunte (bps) verlaag is.
In sy kommentaar op die jongste verslag van die Monetêre Beleidskomitee (MBK) om weer eens die repokoers met 25 basispunte (bps) te verlaag, sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool, dat dit wyd verwag is dat die MBK sy omsigtige standpunt oor die verslapping van die monetêre beleid sal voortsit.
“Die vooruitsig ten opsigte van inflasie lyk nou goed, met inflasie wat waarskynlik rondom die 4,5%-middelpunt van die teikenstrek van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) sal stabiliseer. Afgesien van skokke moet daar nou in die vroeë maande van 2025 ruimte wees vir verdere rentekoersverlagings om die ontwikkelende maar ongelyke ekonomiese herstel te onderskryf.”
Prof Parsons sê die SARB voorsien nou ’n groeikoers van 2% in die bruto binnelandse produk (BBP) vir Suid-Afrika teen 2027.
“Die MBK beklemtoon dat hierdie beter groeipad daarop gegrond is om binnelandse hervormingsinisiatiewe vol te hou, omsigtige staatskuldvlakke te handhaaf en die loonooreenkomste in ooreenstemming met produktiwiteit te hou.”
Volgens prof Parsons moet daar wyer erkenning wees vir die mate waartoe korttermyn-sakevertroue bestendig en doelbewus in langtermyn-beleggersvertroue omgeskakel moet word, waarvan hoër arbeidsryke groei uiteindelik afhang.