Suid-Afrikaners vaar die strate in om te protesteer teen die teenwoordigheid van ongedokumenteerde Zimbabwiërs, Pakistani's en Nigeriërs – wat beskuldig word van misdaad en dat hulle die plaaslike inwoners van werksgeleenthede beroof – maar ons land se pogings tot ekonomiese integrasie ly onder hierdie "oog vir ʼn oog"-mentaliteit. Dit is die mening van dr Illyayambwa Mwanawina, ʼn kundige op die gebied van streeksintegrasie, internasionale reg, goeie korporatiewe bestuur en menseregte aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vanderbijlparkkampus.
Streeksintegrasie as integrale deel van Afrika se ontwikkelingspad
Dr Mwanawina verduidelik dat streeksintegrasie ʼn fundamentele bousteen in die vasteland se ontwikkelingstrategie is en dat dit die meeste pan-Afrika-ontwikkelingsbeleide van die afgelope vyf dekades ten grondslag lê. “Die vasteland van Afrika het, sedert die totstandkoming van die Organisasie van Afrika-eenheid (OAE), geboorte geskenk aan die Lagos Plan van Aksie en die Afrika Ekonomiese Gemeenskap (AEG), en sommige van die sleuteldoelwitte vervat in die Plan sluit in die bevordering van ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling,” verduidelik dr Mwanawina, en voeg by dat hierdie doelwitte bereik moet word ten einde ekonomiese selfstandigheid te verhoog en endogeniese selfvoortstuwende ontwikkeling regoor die kontinent te bevorder. Die AEG verwag van alle lidstate om by die Plan te hou en gunstige omstandighede te skep vir die bereiking van die gestelde doelwitte.
Volgens dr Mwanawina bestaan daar uiteenlopende sienings oor die definisie van “gunstige omstandighede”. Dit kan insluit vrede en sekuriteit tussen lande, ʼn positiewe beleggingsklimaat, die oppergesag van die reg, en die onbeperkte mobiliteit van produksiefaktore. Wat ekonomiese integrasie aanbetref, word impak gemeet aan die handel tussen lidstate.
Dr Mwanawina glo dat die Afrika-unie (AU) ʼn uitstaande geleentheid het om ekonomiese handelsbande tussen lidstate uit te bou en sodoende sommige van die kontinent se sosio-ekonomiese kwessies soos armoede, swak gesondheidsorg, swak onderwysstelsels en eksterne afhanklikheid te ondervang.
Xenofobie belemmer ekonomiese vooruitgang
“Ongelukkig word hierdie geleentheid bedreig deur ʼn kultuur van geweld en onverdraagsaamheid wat gereeld regoor die vasteland opvlam,” sê dr Mwanawina en voeg by dat, alhoewel die oorsake van hierdie aanvalle verskil, daar ʼn rimpeleffek is waarmee streeks- en kontinentale belanghebbendes nie behoorlik rekening hou nie. Die mees onlangse xenofobiese aanvalle in Gauteng het ʼn tragiese aanduider van die ekonomiese en sosio-politieke atmosfeer op die vasteland van Afrika geword.
Wat is die impak van xenofobie op die integrasiedoelwitte van die AU? “Afrika-eenheid, so eenvoudig soos wat dit klink, is ʼn goue draad wat samewerking en wedersydse hulpverlening tussen lidstate verseker. Sonder eenheid sal selfs die beste programme van aksie nie daarin slaag om traksie of ondersteuning van die burgerlike samelewing te kry nie,” argumenteer dr Mwanawina. Die gunstige ekonomiese omstandighede wat nodig is vir kontinentale integrasie word weggekalwe deur die geweld. ʼn Duidelike voorbeeld hiervan is die teenreaksie wat die MTN-groep tans beleef – in Nigerië sowel as in Suid-Afrika. Die internasionale media berig dat Nigeriese betogers MTN se hoofkantoor in Abuja beskadig het, klaarblyklik uit weerwraak vir xenofobie in Gauteng. “Wat tans aan die gang is, is ʼn selfverydelende "oog vir ʼn oog"-narratief tussen skurke regoor die kontinent, en die risiko is dat die AEG se doelwitte besig is om te vervaag. Al die AU-lidstate behoort bekommerd te wees oor die huidige opvlamming van onverdraagsaamheid; gesamentlike optrede is nodig. Hierdie respons sal van lidstate verwag om die aktiveerders te erken voordat geteikende reaksies op die geweld geartikuleer kan word.”
Foto: Dr Illyayambwa Mwanawina