Geweld moet vinnig in bedwang gebring word

Wat op die spel is vir die Suid-Afrikaanse ekonomie indien wet en orde nie gou herstel word nie, is onomwonde deur president Cyril Ramaphosa in sy toespraak op 12 Julie beklemtoon.

Prof Raymond Parsons, ekonoom by die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê dat die siklus van geweld wat tans voorkom ’n risiko vir die huidige ekonomiese herstel inhou, die inentingsprogram ondermyn het, infrastruktuur vernietig het en werksverliese veroorsaak het.

Prof Parsons, wat kommentaar gelewer het op die stappe wat president Cyril Ramaphosa uitgestippel het om wet en orde te herstel, wys daarop dat selfs terwyl die president gepraat het, wydverspreide ekonomiese skade en vernietiging in verskeie areas voortgeduur het, en dat talle besighede reeds permanent deur ongebreidelde misdadigheid vernietig is.

“Die deurslaggewende toets sal nou wees om te verseker dat die heersende wetteloosheid, plundering en ander vorms van openbare geweld so gou as moontlik doeltreffend aan bande gelê word om sake- en beleggersvertroue te herstel.”

Hy sê dat die omvang van die uiteindelike algehele impak van hierdie gebeure op Suid-Afrika se ekonomiese prestasie nou daarvan afhang of die sekuriteitsmagte en andere vinnig genoeg iets kan doen om die situasie om te keer en hok te slaan om vrede en kalmte in die land terug te bring.

“Hoe langer dit duur om die kalmte te herstel, hoe groter sal die huidige onstabiliteit met koste vir die ekonomie en verlies aan menselewens in Suid-Afrika wees. Dit is onvermydelik. Die ekonomie worstel reeds met ’n vlak 4-inperking. Die jongste siklus van geweld moet gouer eerder as later stopgesit word om verdere ekonomiese probleme te vermy.”

Volgens prof Parsons is dit noodsaaklik dat alle sleutelbelanghebbers, saam met versterkte sekuriteitsmagte, hulle samewerking belowe en die nodige leierskap demonstreer om te help om die stabiliteit te herskep wat die ekonomie en die samelewing nou dringend nodig het.

Submitted on Tue, 07/13/2021 - 14:43