Die kursus is aangebied deur die fokusarea, in vennootskap met die International Institute of Ageing, United Nations, Malta, die International Longevity Centre SA, die Suid-Afrikaanse Gerontologie-vereniging en die Nasionale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
Prof Hoffman is ’n professor van sosio-gerontologie in Optentia se Ageing and Generational Dynamics in Africa (AGenDA)-subprogram op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark. Hy is ook ’n James Martin senior navorsingsgenoot by die Oxford Institute for Population Ageing aan die Oxford Universiteit in die VK.
Sy navorsing toon dat, hoewel die Afrika-kontinent een van die jongste bevolkings ter wêreld het, die volgende 30 jaar ’n groei van amper 300% sal bring van mense wat ouer as 60 is.
Volgens prof Hoffman word hierdie dramatiese toename in die getal ouer mense in Afrika primêr deur drie faktore bevorder. Dit is langlewendheid, ’n afname in vrugbaarheid, en migrasie.
As gevolg van vorderings in mediese tegnologie en verandering in die moderne leefstyl, leef mense vandag langer as wat 30 jaar gelede die geval was. In die volgende 30 jaar gaan die lewensverwagting selfs verder styg. “Die ideaal sal wees om ’n gesonde langlewendheid te hê,” sê prof Hoffman, “maar die werklikheid is dat ’n ouer ouderdom dikwels met gesondheidsuitdagings en ander probleme gepaardgaan.”
Ekonomiese en maatskaplike faktore dra alles tot ’n drastiese afname in vrugbaarheid by. Prof Hoffman redeneer dat dit die kombinasie van die dalende vrugbaarheid en langer lewensverwagting is wat die bevolking ouer laat word.
Die derde dryfkrag agter die ouerwordende bevolking van die vasteland is migrasie: die tendens van jonger familielede wat die plattelandse gebiede verlaat om in die stede werk te soek. Migrasie neem nie net gemeenskappe se jonger, meer opgevoede gemeenskapslede weg nie, maar ook daardie mense wat veronderstel is om vir die ouer mense van die samelewing te sorg, met ander woorde die die versorgingsketting word verbreek. Families verloor ook hulle netwerke, aangesien die skakel met versorging en dienste ook weg gaan saam met die persoon wat dit aan die familie verskaf het.
Suid-Afrika het tans ’n heterogene bevolking van 56 miljoen mense, van wie 8,2% (4,1 miljoen) oor die ouderdom van 60 jaar is. Dit bly een van die ongelykste samelewings in die wêreld, met ’n toenemende gaping tussen ryk en arm en ’n hoë vlak van ongeletterdheid onder ouer mense (42,9% van die ouer mense het nie enige formele skoolopleiding gehad nie). Werkloosheidsvlakke styg en 41% van Suid-Afrikaners leef in uiterste armoede.
Teen hierdie agtergrond is prof Hoffman bekommerd dat langlewendheid die nuwe ongelykheid gaan word. Langlewendheid, indien dit bereik word, behels ’n lewe wat as gevolg van armoede in gevaar is. Prof Hoffman redeneer dat dit tyd is vir beleidmakers, die regering en ander rolspelers om nou in vaardighede te belê en maatreëls in plek te stel om te sorg dat ouer mense vir ’n langer tyd ’n bydrae tot die samelewing lewer. “Dit is ons geslag se plig om te verseker dat ons die gehalte van ouer mense se jare verhoog.”
Die AGenDA-subprogram, onder leiding van prof Jaco Hoffman, het onlangs twee baie unieke geleenthede aangebied om die regering en beleidsvormers byeen te bring.