Geloof, talent en hope kreatiwiteit: ’n entrepreneur se reis

Gabi Hendrich (37), ’n grafiese en binnenshuise ontwerper en die eienaar van Living Stones Talent Factory, beskryf haar besluit om ’n entrepreneur te word as ’n geleidelike roeping van God waarop sy ja gesê het. Dit is die storie van haar reis tot dusver.

’n Paar maande voordat sy in 2003 haar graad gekry het, het Gabi in die korporatiewe wêreld vir werk begin aansoek doen met die bedoeling om ’n loopbaan in óf grafiese ontwerp óf korporatiewe kommunikasie te bou. “God het egter ’n ander – die beste – plan vir my lewe gehad,” sê Gabi. Sy het vir ’n jaar Taiwan toe gegaan om Engels te onderrig. Hierdie ervaring het die verloop van haar lewe verander. “By hierdie lewendige, kreatiewe en ywerige nasie is die saadjie geplant sodat ek my eie besigheid kon begin.  Dit was egter eers sewe jaar en ’n groot geloofsprong later dat LSTF in 2011 gebore is.”

Gabi erken dat die gedagte om ’n entrepreneur te word nooit eers by haar opgekom het voordat sy in Taiwan was nie. Ná haar tyd in Taiwan het sy vir ’n werksvakansie Verenigde Koninkryk toe gegaan. Een aand, terwyl sy oor haar toekomstige besigheid nagedink het en wat sy dit sou noem, het sy op 'n gedeelte in Lukas afgekom waar Jesus Jerusalem moes binnegaan. Terwyl ’n skare begin het om God te prys, het ’n paar Fariseërs vir Jesus gesê om hulle te bestraf. Jesus se antwoord was: “As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.” (Lukas 19: 40). Gabi het geweet dat haar besigheid “Living Stones” genoem moet word. Die laaste gedeelte van die naam “Talent Factory” vat die medium- tot langtermyndoel saam: om diens by die besigheid moet voeg sodat dit kan groei en werk skep.

Gabi het in 2016 ingeskryf vir die Ondernemende Vroue-program (EWP) wat deur die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (EDC) op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark aangebied word. Deelname aan hierdie kortleerprogram (KLP) het die positiewe siening versterk wat sy van haar besigheid gehad het en sy het geleer hoe om die Business Model Canvas-strategie toe te pas. Dit het haar met die beplanning en implementering van sake-idees gehelp.

“Ek het aanvanklik net dienste in grafiese ontwerp aangebied. Ek het in 2015 ’n binnenshuise-ontwerpdiens bygevoeg en tans ontwerp ek ’n produkreeks genaamd “You frill me” saam met my intern, Nobantu Motaung, wat aan ’n groenleierskapsprojek deelneem. Vir hierdie produkreeks maak ons gebruik van afvalmateriaal om pragtige sierkussings te maak. Ek sal baie graag die besigheid wil uitbrei en mense in diens neem om meubels en toebehore te vervaardig,” se Gabi. Ten opsigte van binneruimtes wil sy daarop fokus om groen en volhoubare ontwerp-oplossings vir korporatiewe en residensiële kliënte te bied.

Volgens Gabi het sy waardevolle ervaring opgedoen deur vyf jaar lank in die grafiese-ontwerpbedryf te werk voordat sy haar eie onderneming begin het, en die jaar wat sy in die VK deurgebring het, het haar ten opsigte van innoverende ontwerp- en sake-idees geïnspireer.

Uitdagings en hoogtepunte

“Jy is verantwoordelik vir amper elke aspek van die opbou van jou besigheid en sekere aspekte kan jou aandag aftrek van die fokus wat jy op jou kernbesigheid moet hê – dit kan moeilik wees. Ek is geseënd dat ek die ondersteuning van my familie en vriende het, en as die omvang en spertyd van ’n projek te veel is om self te hanteer, het ek ’n paar wonderlike kontakte aan wie ek sekere take kan uitbestee,” sê Gabi. Wanneer sy terugdink aan die heel eerste EWP-sessie sê sy dat sy as entrepreneur gegroei het. “Daar het wonderlike mense by my netwerk bygekom: mense wat kan raad gee, nuwe kliënte en mense wat my aanmoedig. Ek het verskeie nuwe vaardighede bygekry wat ek kan gebruik om my onderneming te ontwikkel, en ondersteuning te verleen aan ander vroue wat met soortgelyke entrepreneursreise begin,” sê Gabi.

Van die grootste belonings vir haar is die mense wat deel vorm van die storie van die Living Stones Talent Factory, die positiewe terugvoer wat sy van kliënte ontvang en om te kan doen waarvoor sy lief is. “Dit is goed om te sien hoe die saadjie wat baie jare gelede geplant is nou groei, en die impak wat dit het, te beleef. God se getrouheid loop soos ’n goue draad deur die jare,” sê Gabi.

Besoek Living Stones Talent Factory se webwerf www.livingstonestf.co.za en Facebook-blad https://www.facebook.com/LivingStonesTalentFactory/, of skakel hulle by 016 932 4384

Meer oor die EWP

Die Ondernemende Vroue-program is ’n program wat oor agt maande strek en daarop ingestel is om sake-ondersteuningsdienste te lewer aan vroue wat hulle eie sakeondernemings wil begin. Tydens die verloop van die program word deelnemers deur ’n program gelei om idees te ondersoek, sakemodelle te ontwikkel, en daarna hulle ondernemings met vertroue en entrepreneurskundigheid aan te pak.

Sedert sy ontstaan in 2015 het die program met rasse skrede vooruitgegaan en in die afgelope maande ook na Sasolburg en Pretoria uitgebrei. Die program verteenwoordig ’n NKR-vlak 5-sertifisering. Die programkoördineerder is Leonie Greyling, ’n kundige in entrepreneurskapsontwikkeling, en saam met ’n span ervare aanbieders uit die akademie sowel as die sakesektor bied die program aan vroue die geleentheid om hulle sakedrome te vervul.

 

Gabi Hendrich in haar ateljee.

 

Submitted on Mon, 07/10/2017 - 11:12