Geestesgesondheid-bewustheidsdag 2019: laat elke treë tel!

Geestesgesondheid omvat soveel meer as bloot ’n treffrase van ons tyd. Dit is trouens een van die belangrikste welstandsfaktore om te oorweeg, aangesien dit almal raak, ongeag hulle ouderdom, geslag, sosiale posisie of professie.

Daarmee in gedagte gaan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Alumni-kantoor en die Gesondheidsorgsentrum in Vanderbijlpark op 14 September 2019 ’n geestegesondheid-bewustheidsdag aanbied.

Dit sal die tweede keer wees dat hierdie gebeurtenis aangebied word, en die doelwit is tweeledig: om mense van die belangrikheid van geesteswelstand bewus te maak, en om die pogings te bevorder wat deur die kampus gemaak word om hierdie belangrike kwessie te hanteer.

Alle lede van die universiteitsgemeenskap – hetsy dit personeel, studente, alumni of gemeenskapslede is – sal hierdie dag aan ’n agt kilometer lange pretaktiwiteit, soos stap, draf of fietsry, deelneem.

Volgens Zanele Ngobese, alumnipraktisyn, is dit belangrik om ’n sterk boodskap van ondersteuning en aanvaarding uit te stuur, aangesien die meeste lyers steeds ’n gevoel van minderwaardigheid, frustrasie en onwaardigheid ervaar.

Suster Mapeete Rasoaisi, hoof van die kampus se gesondheidsorgsentrum, verduidelik dat fisieke fiksheid een manier is waarop welstand bevorder kan word.

 “Gegewe die grootte en impak van geestesgesondheidsuitdagings vir individue, gesinne en samelewings, is dit belangrik dat gemeenskappe ’n belegging in geestesgesondheid en welstand maak,” sê Mapeete, en voeg by dat die komende gebeurtenis wat vir die publiek oop is, die bemagtigingskrag van aktiewe ondersteuningsnetwerke simboliseer.

Meer oor die geleentheid

Die aktiwiteite op die dag sal om 05:30 by die kampus se Joolplaas langs die Vaalrivier begin. Deelnemers sal tussen ’n pretstap, pretdraf of fietsry van die aangewese afstand van agt kilometer kan kies. Die eerste 50 deelnemers in elkeen van die kategorieë sal medaljes ontvang.

Registrasiegeld is R70 vir volwassenes en R40 vir studente en kinders. Deelnemers kan die registrasiegeld op die dag daar betaal, of vooraf registreer deur vir Julia du Plooy by 016 910 3163 of Tshepiso Kabai by 016 910 3183 te skakel. Jy kan ook ’n e-pos aan julia.duplooy@nwu.ac.za of aan tshepiso.kabai@nwu.ac.za stuur.

 

Submitted on Mon, 07/15/2019 - 12:05