Gee vorm aan toekomstige middelontwikkeling met etiese benadering

Prof Chrisna Gouws, ’n professor by die Sentrum van Uitnemendheid vir Farmaseutiese Wetenskappe (Pharmacen™) van die Noordwes-Universiteit (NWU), is aan die hoof van ’n beduidende taak op die gebied van farmaseutiese navorsing met betrekking tot die transformasie van middelontwikkeling. 

Haar werk in toetsmetodes wat geen diere betrek nie, verander die manier waarop geneesmiddels nagevors, getoets en uiteindelik goedgekeur word. Sy gebruik haar kundigheid in biochemie, selkultuurmodelle en kruie-geneesmiddelinteraksies – wat alles uitgeloop het op ’n missie om menslike en doeltreffende farmaseutiese toetsing te bevorder.

Die wêreldwye verskuiwing weg van tradisionele toetsmetodes op diere is besig om momentum te kry. Prof Gouws is aan die voorpunt van hierdie beweging en koppel haar navorsing aan die bevordering van menslike en etiese alternatiewe. Regerings en regulatoriese liggame wêreldwyd erken die potensiaal vir hierdie alternatiewe, soos dit deur die FDA Modernization Act 2.0 in die VSA gedemonstreer word, en prof Gouws se gees van innovasie en deernis was vir haar ’n baie belangrike dryfkrag in hierdie saak.

Die kern van haar werk is die ontwikkeling van komplekse menslike selkultuurmodelle vir farmaseutiese toepassings. Sy spesialiseer in die skepping van minimodelle van kankergewasse wat lewensegte toestande repliseer en so die navorsers in staat stel om die effek van potensiële geneesmiddels en behandelings met groter akkuraatheid te bestudeer. Haar span gebruik baanbreker-tegnologieë soos roterende bioreaktors om selklusters – bekend as sferoïdes – te kweek, wat die gedrag en eienskappe baie goed naboots van werklike gewasse wat by pasiënte aangetref word.  

Hierdie navorsing word uitgebrei om ’n beduidende uitdaging in kankerbehandeling te hanteer: middelweerstandigheid. Deur chemoterapie met plantekstrakte soos Lessertia frutescens (kankerbossie) te kombineer, het haar span potensiële strategieë ontdek om middelweerstandigheid by kleinsel-longkanker te verminder. Hierdie deurbraak kon nuwe moontlikhede oopmaak vir pasiënte wat die konvensionele behandelingsopsies uitgeput het.

Die beduidendheid van prof Gouws se navorsing word deur haar samewerkende benadering beklemtoon. Sy lei ’n span internasionale kundiges, soos prof Krzysztof Wrzesinski van Denemarke, saam met talentvolle PhD- en MSc-studente. Hulle doen saam baanbrekerswerk oor selkultuurtegnieke en ondersoek alternatiewe vir tradisionele dieremodelle wat vir kankerstudies gebruik word. Samewerkings met ander Suid-Afrikaanse universiteite soos die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Pretoria is ook die bewys van doelbewuste samewerkingspogings en ’n intense begeerte om betekenisvolle verandering in farmaseutiese navorsing teweeg te bring.

Prof Gouws, wat geïnspireer word deur die potensiaal om lewens te red en ’n tasbare verskil in pasiënte se welstand te maak, is persoonlik daaraan toegewy om uitkomste vir pasiënte te verbeter. Haar werk in die ontwikkeling van in vitro-modelle wat menslike weefselstruktuur en fisiologie repliseer, toon haar visie om te verseker dat slegs die belowendste middels vir toetsing met diere en kliniese proewe gebruik word. 

Deur die doeltreffendheid van die behandeling te verhoog, word koste verlaag en word toetsing met diere potensieel met baanbrekertegnologieë vervang, en kan haar navorsing potensieel die farmaseutiese bedryf verander en die weg vir verpersoonlikte medisyne baan.

Die impak van prof Gouws se werk strek baie verder as die mure van die laboratorium. Dit toon dat Suid-Afrika die vermoë het om baanbrekervordering na die wêreldverhoog te bring. Die NWU loof prof Gouws vir haar gees van wetenskaplike innovasie en etiese verantwoordelikheid in die najaging van doeltreffender, meer menslike en etiese farmaseutiese toetsing.

Prof Chrisna Gouws

 

21 dag oue kleinsel-longkanker-sferoïde

Celvivo ClinoStar-eenhede

Sferoïdes in die ClinoReactor

Submitted on Wed, 09/27/2023 - 16:09