Gebruik die reg om geregtigheid en volhoubaarheid te bevorder

Dit is maklik om te sien hoe ’n gebrek aan die behoorlike toepassing van die wet, veral in die Suid-Afrikaanse konteks, uiteindelik tot anargie kan lei, aangesien daar mense is wat die wet doelbewus wil systap.

Gelukkig is daar mense by die Navorsingseenheid vir Reg, Geregtigheid en Volhoubaarheid by die Noordwes-Universiteit (NWU) wat hard besig is om innoverende oplossings vir ons land se maatskaplike en omgewingsuitdagings te soek.

“Die navorsingseenheid benut die reg om innoverende juridiese oplossings te kry om geregtigheid en volhoubaarheid in Suid-Afrika en die streek as ’n lid van die internasionale gemeenskap van state en as ’n invloedryke land op die Afrika-kontinent te bevorder,” verduidelik prof Mitzi Wiese, wat as direkteur aan die hoof van die navorsingseenheid staan.

Sy sê die fokus is op menslike kwesbaarheid, omgewingsverandering, geregtigheid in die praktyk en finansies, handel en innovasie.

Projekte wat aan die gang is

Volgens prof Wiese het die navorsingseenheid verskeie projekte wat baanbrekernavorsing doen wat kwessies regoor die openbare en privaat sektore hanteer.

Al die voltydse akademiese personeel van die Fakulteit Regte neem aan een van die vier aktiewe navorsingsprojekte aan die werk van die navorsingseenheid deel.

Die omgewingsveranderingprojek fokus sy navorsing op die koppelvlak tussen omgewingsvolhoubaarheid, omgewingsgeregtigheid, omgewingsbestuur en die reg.

Aangesien die wêreld die hele tyd verander, moet die reg daarmee saam verander. Dit is veral waar vir die gebiede van finansies, handel en innovasie, wat ’n noodsaaklike rol speel in die ontwikkeling van en wisselwerking tussen die “werklike” en “virtuele” wêrelde van die samelewing.

Lede van die projek oor die reg in praktyk- fokus hulle navorsing op die praktiese impak van die reg op die samelewing. Van spesifieke belang is vrae rondom die reg en geregtigheid.

Die projek oor kwesbare samelewing hanteer ’n verskeidenheid onderwerpe wat met die kwesbaarheid van lede van samelewings verband hou.

“Suid-Afrika funksioneer binne die konteks van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, die Afrika-unie en internasionale reg, en verskeie van die projekte ondersoek dus hierdie verhouding,” sê prof Wiese.

Die navorsingseenheid huisves ook die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief (SARCHi) se leerstoel in Stede, die Reg en Omgewingsvolhoubaarheid, wat toegewy is aan vakkundigheid in die reg en ontwikkeling van navorsingsvaardighede vir volhoubare stedelike ontwikkeling in Suid-Afrika, die breër Afrikastreek en ook verder.   

“Ons fokus op die mentorskap en loopbaanontwikkeling van opkomende navorsers. Ervare navorsers ondersteun opkomende navorsers om hulle akademiese loopbane te bevorder en om ’n bydrae tot die navorsingseenheid se projekte te lewer,” sluit prof Wiese af.

Prof Mitzi Wiese is die direkteur van die NWU se Navorsingseenheid vir Reg, Geregtigheid en Volhoubaarheid.

Submitted on Wed, 09/27/2023 - 15:40