FIH Junior Vrouehokkie Wêreldbeker ’n groot sukses

Bertie Jacobs

Nederland het gewen, maar hokkie was die oorwinnaar. Toe die eindfluitjie op Dinsdag 12 April geblaas het, was dit die Nederlandse ondersteuners wat gejuig het en die oranjegeklede spelers wat van vreugde gedans het omdat hulle Duitsland oortuigend met 3–1 gewen het in die eindwedstryd van die FIH Junior Vrouehokkie Wêreldbeker op die Astroturf-baan van die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom.  Dit sal egter verkeerd wees om nie te besef dat die sukses van die toernooi baie langer onthou sal word as die uitslag van die finale wedstryd nie.

Sjoe, wat ’n gebeurtenis. Dit was veral bemoedigend om te sien hoe die ondersteuners die weer, wat dikwels nie saamgespeel het nie, trotseer om na hokkie van ’n hoë gehalte te kyk. Dit was die eerste keer dat ’n hokkiegeleentheid soos hierdie op die Afrika-vasteland plaasgevind het, en te oordeel na die manier waarop dit deur die NWU aangebied is, sal dit nie die laaste wees nie.

Goud vir die Nederlanders en silwer vir Duitsland. Engeland het brons verwerf nadat hulle Indië in ’n uitskietstryd geklop het ná die eindfluitjie geblaas het. Argentinië het vyfde geëindig nadat hulle Korea gewen het, en Suid-Afrika was algeheel sewende met ’n 3–2-oorwinning oor die VSA.

Die negende weergawe van die Vrouehokkie Junior Wêreldbeker het geëindig met ’n totaal van 202 doele, waarvan Nederland se Jip Dicke 13 bygedra het. Stine Kurz en mede-Duitser Marli Wichmann is onderskeidelik as die beste speler en die beste doelwagter van die toernooi aangewys.

Die volgende toernooi sal in Santiago Chili gehou word.

....

Welverdiende kampioene!: Wouter Pienaar/Potchefstroom Herald

Submitted on Tue, 04/19/2022 - 10:12