Fakulteit neem die voortou om jong vroulike studente te bemagtig

Wyle Kofi Annan het gesê dat die bemagtiging van vroue die doeltreffendste instrument is om enige nasie te ontwikkel. Met hierdie stelling in gedagte is die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Opvoedkunde in Vanderbijlpark hard aan die werk om te verseker dat geen jong dame klasse moet misloop omdat sy haar maandstonde het en nie sanitêre produkte het nie.

Wat as ’n projek vir Vrouedag begin het, het so ’n goeie reaksie ontlok dat die fakulteit sy Charity Begins at Home-program gaan uitbrei. Die doel van die program is nie net om mense bewus te maak van volhoubare, wasbare sanitêre doekies en broekies nie, maar ook om lede van die universiteitsgemeenskap te motiveer om behoeftige studente met sulke produkte te borg.  

“Ons het besluit om op herbruikbare sanitêre produkte te fokus omdat dit ’n langtermynoplossing – drie tot vyf jaar – bied teenoor die insameling van gewone sanitêre produkte wat net oor twee of drie maande ’n impak sal maak,” verduidelik dr Küng, die waarnemende adjunkdirekteur van die Skool vir Professionele Studies in Onderwys.

Vir ’n skenking van R153 sal die fakulteit ’n sanitêre bestuurspak saamstel wat bestaan uit twee katoenbroekies, drie standaardgrootte doekies en een ekstralangdoekie. Hierdie gepatenteerde doekies word ontwerp deur SUBZ – ’n maatskappy wat in KwaZulu-Natal gebaseer is. Dit bestaan uit vyf lae hidrofiliese materiaal wat vogtigheid van die liggaam af weghou.

Volgens dr Küng is die program met groot entoesiasme begroet deur personeel en studente, en meer as R13 763 is tot dusver ingesamel. “Ons is goed op pad om ons teiken te bereik, en het net nog R1 537 nodig om die doelwit te bereik wat ons vir onsself gestel het,” sê dr Küng.

’n Realiteit wat jong vroue verhoed om klas by te woon

Sy sê verder dat die prys van sanitêre produkte ongelukkig vir talle studente net te hoog is, en hulle word gedwing om onhigiëniese metodes te gebruik om hulle menstruele siklus te bestuur, of bly van klas af weg. “Ongelukkig word die besluit om ’n brood te koop om honger mae te voed of ’n sanitêre doekie om jou dogter se maandstonde te bestuur, algemeen in Suid-Afrika geneem onder huishoudings wat sukkel om te oorleef. En dikwels wen die honger mae,” sê dr Küng en voeg by dat hierdie probleem ook op universiteitsvlak ’n droewe realiteit is.

’n Uitdaging vir die NWU-familie en die groter gemeenskap

“Ons wil graag die ander kampusse, ons studentebevolking en ons personeel uitdaag om by ons aan te sluit om ’n werklike verskil in die lewens van ons vroulike studente te maak,” sê dr Küng, en voeg by dat die onvermoë om toegang tot sanitêre produkte te verkry, tot ’n afname in studente se klasbywoning lei en uiteindelik hulle akademiese presensie beïnvloed. “ Kom ons skenk aan die jong vroue die geskenk van waardigheid, en bemagtig hulle só om hulle volle potensiaal te bereik,” sê dr Küng.

Vir meer inligting, skakel asseblief met dr Küng deur middel van ’n e-pos aan elize.kung@nwu.ac.za.

 

 

 

 

 

Submitted on Fri, 10/12/2018 - 12:15