EWP 2018 – Moet dit nie misloop nie

Die sperdatum vir aansoeke vir die 2018-weergawe van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Ondernemende Vroue-program (EWP) kom vinnig nader.

Beginner- vroulike entrepreneurs in die Vanderbijlparkstreek word aangemoedig om gebruik te maak van die tweede (en laaste) inligtingsdag, wat op Dinsdag 30 Januarie plaasvind, en om vir die program aansoek te doen.

Dit is hierdie jaar die sesde keer dat hierdie uiters geslaagde program deur die NWU se bhive Ondernemingsontwikkeling (EDC) in Vanderbijlpark aangebied word. Beginner- vroulike entrepreneurs word deur hierdie vlagskipprogram bemagtig om nie slegs hulle besigheidsdrome waar te maak nie, maar ook om met trots aktief tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by te dra.

Ondernemings wat deur vroue bedryf word, neem wêreldwyd toe. Vroue ervaar egter unieke uitdagings wat ’n impak het op hulle vermoë om hulle ondernemings te laat groei. Die EWP bied ’n reddingsboei aan vroulike entrepreneurs ten opsigte van beste praktyke en instrumente om die behoeftes en beperkinge wat hierdie entrepreneurs ervaar, die hoof te bied. Dit is ’n bemagtigingsprogram wat nie net deelnemers met vaardighede en kennis toerus nie, maar ook as ondersteuningspunt vir samewerking, navorsing en professionele netwerking dien. 

Die program het al vroulike entrepreneurs in staat gestel om baanbrekers op talle gebiede te wees, soos in app-ontwikkeling, spyseniering, in die konstruksiebedryf, mode-ontwerp, binnenshuise versiering, asook instandhoudingsbestuur. Ander het unieke produkte ontwikkel en bekendgestel om vir verskillende markte voorsiening te maak. Voorbeelde sluit in ’n ekovriendelike mobiele motorwasdiens vir groot besighede, die verwerking van plastieksakke in ontwerpermatte vir die toerismebedryf en selfs ’n taksidermiediens wat nommerpas is vir die wild- en jagbedryf. Verskeie van die deelnemers aan hierdie program verskaf nou werk aan ander vroue in hulle onderskeie gemeenskappe en neem selfs jongmense as interns in diens, en wys en leer hulle die krag van entrepreneurskap.

Finale oproep vir aansoeke

Belangstellende vroulike entrepreneurs het nog een geleentheid om deel te word van die 2018-weergawe van die program. ’n Inligtingsessie op 30 Januarie sal aan hulle die geleentheid bied om die programkoördineerders te ontmoet en vir die agt maande lange program in te skryf. Aansoeke moet voor 14:00 op daardie dag in wees.

Tydens die inligtingsessies sal voornemende deelnemers die geleentheid kry om direk te skakel met vroue wat die program in vorige jare suksesvol voltooi het en wat nou aan die hoof van hulle eie sakeondernemings staan. Volgens Johann Landsberg, bestuurder van die bhive EDC, sal vorige gegradueerdes van die program hulle ervarings met voornemende deelnemers deel en vertel wat hulle in die program geleer het om vir hulle eerstehands te sê watter waarde die program vir nuwe ondernemings het.

Meer inligting oor die EWP en die inligtingsessies kan verkry word by die bhive EDC deur 016 910 3393 te skakel, of deur ’n e-pos aan bhive@nwu.ac.za te stuur.

* ’n Keuringspaneel sal op 1 Februarie vergader om die aansoeke te keur.

Submitted on Thu, 02/01/2018 - 12:44