Die span van Vanderbijlpark ding nou mee met verteenwoordigers van agt ander Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings, naamlik: die Sentrale Universiteit van Tegnologie, die Universiteit van Fort Hare, die Universiteit van Limpopo, die Universiteit van Mpumalanga, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Zululand, en die Walter Sisulu Universiteit. Daar was 25 instellings vir hoër onderwys wat in 2017 vir die kompetisie ingeskryf het. Die leiers van die Enactus Vaal-span is Banele Ngemntu (voorsitter) en Mondli Mathonsi (projekleier). Die span het hulle ReVaal-vernuwingsprojek ingeskryf.
Meer oor die ReVaal-vernuwingsprojek
Die ReVaal-vernuwingsprojek se aanvanklike doel was om die gemeenskap van Boipatong – ’n township naby Vanderbijlpark – deur middel van ’n afvalbestuursintervensie te vernuwe. Dit het gou duidelik geword dat ’n innoverende oplossing nodig was om nie net die toenemende afvalprobleem te hanteer nie, maar ook om die inwoners van die gebied te bemagtig.
Die Enactus Vaal-span – wat geheel en al uit studente van die kampus in Vanderbijlpark bestaan – het toe ’n stelsel ontwikkel waar afvalpunte ingestel is. Hierdie afvalpunte is geriewe waar plaaslike werklose gemeenskapslede kan saamkom om die afval te help sorteer sodat dit herwin kan word. Deur herwinning word hierdie gemeenskapslede bemagtig om ’n inkomste te genereer.
Benewens die afvalpunte wil die span ook graag die gemeenskap van hulpbronne soos vullisdromme en herwinningstrollies voorsien. Ingevolge die projekplan sal hierdie spesifieke intervensie ’n dinamiese samewerkingspoging tussen Enactus Vaal, die gemeenskap en die plaaslike munisipaliteit wees.
Volgens Mondli Mathonsi, het die projek verskeie newevoordele, soos voedselafval wat deur plaaslike boere as bemesting benut kan word as ’n manier om hulle boerdery-aktiwiteite vol te hou. Dit grootste uitkoms is die impak wat die projek op die munisipale koste ten opsigte van afvalverwydering en -bestuur sal hê. “Ons hoop dat hierdie besparings in die projek herbelê sal word om die afvalpuntstelsel verder uit te brei en ontwikkel,” verduidelik Mondli.
Meer oor Enactus
Enactus gee aan studente die geleentheid om hulleself in die sakeleiers van môre te omskep. Hulle leer hoe om deur entrepreneursintervensie vordering prakties moontlik te maak. Deur opvoedkundige uitreikprojekte help hulle gemeenskappe om hulle lewensgehalte en lewenstandaard te verbeter.
Enactus Suid-Afrika bestaan tans uit 2 868 lede, 27 spanne en ’n totaal van 201 023 uur (met nog wat telkens bykom) se vrywilligerwerk wat tot dusver gedoen is. As ’n nie-winsgewende organisasie glo Enactus dat ’n beter wêreld begin deur verantwoordelikheid te neem en leiers te ontwikkel wat maatskaplik-bewuste individue is, met die vermoë en bereidwilligheid om ’n betekenisvolle bydrae tot hulle gemeenskappe te lewer. Deur hierdie beweging, wat studente, akademici en sakeleiers bymekaar wil bring, skep en implementeer Enactus verskillende gemeenskapsbemagtigingsprojekte regoor die wêreld. Sodoende verander jongmense nie net mense se lewens nie, maar help ook om dié soort talent en perspektief, wat ten opsigte van leierskap in ’n toenemend meer gekompliseerde en uitdagende wêreld noodsaaklik is, te ontwikkel. Die belangrikste kenmerk van die aktiewe deelnemers – hetsy dit studente, akademici of sakeleiers is – is dat hulle almal daaraan toegewy is om die mag van entrepreneursoptrede te gebruik om die lewensgehalte en lewenstandaard van mense in nood te verbeter.
* Enactus Vaal val binne die bhive EDC (ondernemingsontwikkelingsentrum).