• Jagters, veral internasionale jagters, glo dat hulle plaaslike gemeenskappe bevoordeel.
• Internasionale jagters bestee tot vier keer meer per besoek as plaaslike jagters.
• Internasionale jagters beskou hul impak as groter as plaaslike jagters.
• Die perspektief van die plaaslike gemeenskap ontbreek steeds.
Die teiken is in sy visier. In sy gedagtes is hy al besig om die vleis te verwerk. Hy trek die sneller en die skoot klap. Vir die jagter was dit ʼn opwindende ervaring, een wat hy elke jaar met duisende ander jagters deel. Maar wat beteken jagtoerisme werklik vir die omliggende gemeenskappe?
ʼn Onlangse studie deur die Noordwes-Universiteit (NWU) se Navorsingseenheid vir Toerismenavorsing in Ekonomiese Omgewing en Samelewing (TREES) ondersoek hierdie omstrede en dikwels misverstane bedryf vanuit ʼn ongewone hoek: deur die oë van die jagters self. Hierdie baanbrekende studie is deur prof Peet van der Merwe en prof Elmarie Slabbert gedoen en gepubliseer in die joernaal Development Southern Africa onder die titel The (ir)relevance of hunting tourism to rural communities: A hunter’s perspective.
Die bevindinge is opspraakwekkend: jagters glo dat hulle nie net aan ʼn ontspanningsaktiwiteit deelneem nie, maar aktief die ekonomieë, infrastruktuur en sosiale dinamika van Suid-Afrika se landelike gemeenskappe ondersteun. Of plaaslike gemeenskappe hierdie persepsie deel of nie, bly ʼn ope vraag.
Jagtoerisme is ʼn groot bedryf in Suid-Afrika. Elke jaar sak duisende internasionale en plaaslike jagters op wildplase en reservate toe waar hulle groot bedrae geld aan gidse, verblyf en permitte bestee. Internasionale jagters wat Suid-Afrika besoek, is hoofsaaklik van die Verenigde State afkomstig en vertoef gemiddeld tien nagte per besoek, vergeleke met net drie of vier nagte vir hul Suid-Afrikaanse eweknieë.
Die verskil in besteding is groot, met buitelandse jagters wat tot vier keer meer per besoek investeer. Hul finansiële voetspoor strek verder as jagakkommodasie en spoel oor na plaaslike gemeenskappe in die vorm van indiensneming, dienskontrakte en donasies. Volgens die studie skenk byna ʼn derde van internasionale jagters vleis van hul jagtogte aan plaaslike gemeenskappe, en ʼn kwart ondersteun skole en openbare projekte.
Maar is dit genoeg om dit ʼn reddingsboei vir landelike Suid-Afrika te noem?
Die outeurs van die studie voer aan dat jagtoerisme nie in ʼn vakuum bestaan nie, maar op die kruispunt tussen ekonomiese oorlewing, bewaringsbeleid en kulturele behoud staan. Meer as 30% van Suid-Afrika se bevolking woon in landelike gebiede, waar werkloosheid en armoede wydverspreid is. Jagtoerisme is hier ʼn seldsame bron van formele werk. Wildplase en lodges skep werk vir spoorsnyers, lodge-personeel, kokke en ambagsmanne, en bied geleenthede op plekke waar min alternatiewe bestaan.
Jagters sien hulself as die dryfveer agter hierdie ontwikkeling. Hulle teenwoordigheid lei volgens hulle tot verbeterings in infrastruktuur, paaie wat beter onderhou word en verbeterde sekuriteit in die gebiede waar hulle jag. Hulle beweer dat misdaad in jaggebiede afneem en dat plaaslike trots op tradisionele kulturele praktyke – soos volhoubare wildbestuur – floreer weens die toevloei van inkomste. Hierdie aansprake bly egter grootliks ongetoets vanuit die perspektief van die gemeenskappe self.
Ondanks alle vermeende voordele, is jagtoerisme ʼn polariserende kwessie. Sy kritici voer aan dat dit korttermyn ekonomiese gewin bo langtermyn-volhoubaarheid prioritiseer. Navorsing buite Suid-Afrika, veral in Namibië en Botswana, het bevind dat die verbod op jagtoerisme tot werksverliese en ʼn toename in stropery kan lei, aangesien gemeenskappe ʼn wettige manier verloor om voordeel te trek uit wild. Die Suid-Afrikaanse studie weerspieël hierdie bekommernisse: jagters sien hulself oorwegend as bondgenote in bewaring, wat inisiatiewe teen stropery en wildbestuurspogings direk finansier. Tog bly bewaringsgesindes verdeeld oor die vraag of jag en biodiversiteitsbewaring op die lang termyn werklik saam kan bestaan.
Die NWU-studie het die impak van jagtoerisme in drie hooffaktore gekategoriseer: welvaart, bemagtiging en herlewing. Ekonomiese voordele was boaan die lys, met jagters wat werkskepping, inkomste-generering en verbeterde lewenstandaard as hul belangrikste bydraes noem. “Herlewing”– die idee dat jagtoerisme landelike gebiede fisies deur ontwikkeling transformeer – het laaste gekom. Selfs onder die ondervraagde jagters het verwagtinge van direkte infrastruktuurverbeterings beskeie gebly.
Daar was egter ʼn duidelike onderskeid tussen buitelandse en plaaslike jagters. Internasionale besoekers was baie meer geneig om hulself as sleutelspelers in gemeenskapsontwikkeling te sien. Hulle het hul finansiële bydraes, hul rol in die instandhouding van wildplase en hul ondersteuning vir plaaslike projekte uitgelig. Suid-Afrikaanse jagters het die ekonomiese voordele ingesien, maar was minder geneig om hul rol as transformerend te beskou. Dit kan wees omdat hulle plaaslike jagters is en nie hul bydrae ten volle erken nie. Dit is soortgelyk aan mense wat in ʼn kusdorp woon en nie die see so baie waardeer soos mense wat daar vakansie hou nie.
Daar is ʼn eenvoudige rede hiervoor. Een van die bevindinge van die studie is dat, hoewel jagters as ʼn kollektief beskou word, internasionale jagters en plaaslike jagters verskillende perspektiewe op sommige van die gevolge het. Die studie het getoon dat internasionale jagtoeriste hul impak as meer betekenisvol ervaar as plaaslike jagters. Hul besteding kan ook hul persepsies beïnvloed, aangesien hulle drie tot vier keer meer per jaguitstappie bestee as plaaslike jagters. Daar is egter minder internasionale jagtoeriste as plaaslike jagtoeriste in Suid-Afrika; die impak van plaaslike jagtoeriste is belangriker omdat daar heelwat meer van hulle is. Plaaslike jagters moet dus meer bewus gemaak word van hul impak op gemeenskappe. Eenvoudig gestel jag plaaslike jagters meer, wat hul eie persepsies van hul impak op plaaslike gemeenskappe verwater. Hulle dink minder oor die impak van hul bydraes.
Die studie dui daarop dat Suid-Afrika se jagtoerismemodel ʼn potensiële bloudruk bied om bewaring en landelike ontwikkeling in ewewig te bring, maar dit beklemtoon ook hoe min daar in werklikheid bekend is oor die uitwerking op grondvlak. Die stemme wat steeds ontbreek, is dié van plaaslike gemeenskappe self. Sien hulle dieselfde ekonomiese en maatskaplike voordele as jagters? Word hulle ook bevoordeel, of is dit net vir grondeienaars en toerisme-operateurs beskore?
Die studie verg verdere ondersoek, veral vanuit die perspektief van diegene wat die meeste geraak word. Tot dan sal die debat oor die plek van jagtoerisme in landelike Suid-Afrika onopgelos bly. Maar één ding is seker: vir die jagters wat jaar na jaar terugkeer, word hul impak nie net gemeet in die diere wat hulle jag nie, maar ook in die gemeenskappe wat volgens hulle in die proses opgehef word.