Eenheid vir Voortgesette Opleiding ’n konstante in die verskaffing van geleenthede vir die opgradering van vaardighede

Tyd is ’n kommoditeit wat nie oral ewe volop is nie. Die tyd wat jy het, moet optimaal benut word, veral in ’n vinnige wêreld waar die deurlopende ontwikkeling van ’n mens se vaardighede noodsaaklik is om in die werkplek relevant te bly. Ons woon in ’n wêreld waar stagnasie baie nadelig vir ons toekoms is. Dit is waar die Eenheid vir Voortgesette Opleiding (EVO) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) die gaping oorbrug tussen waar ons ons tans bevind, die tyd wat tot ons beskikking is, en waar ons graag wil wees.

Professor Linda du Plessis, adjunk-visekanselier van die NWU, verduidelik waarom die EVO ’n noodsaaklike skakel in die NWU se ketting is.

Prof, hoe pas die EVO by die groter NWU-struktuur in?

“Die EVO is die strategiese vennoot vir fakulteite om voortgesette professionele ontwikkeling (CPD) deur kortleerprogramme te ondersteun. Kliënte kan deur ons interaktiewe webwerf en kursuskatalogus (https://learn.nwu.ac.za/) omvattende kursusinligting en registrasiedatums en -besonderhede vind. Kortkursusse kan deur verskillende leweringsmodusse aangebied word om vir verskillende markspesifieke behoeftes voorsiening te maak.”

Waarom, sou jy sê, is die EVO ’n onvervangbare deel van die NWU se struktuur?

“Die snelveranderende werksomgewing vereis dat mense nuwe vaardighede aanleer terwyl hulle werk. Kortkursusse deur die EVO kan aan ’n verskeidenheid sosiale en opvoedkundige doelwitte voldoen, insluitende die verbetering of opknapping van deelnemers se kennis en vaardighede op ’n bepaalde gebied, voortgesette professionele ontwikkeling, leer om tegnologie te gebruik, persoonlike vervulling, sosiale ontwikkeling en goeie burgerskap. Kortkursusse verskaf buigsame ‘netbetyds-’ en ‘netvoldoende’ leer om aan bepaalde behoeftes te voldoen, nuwe kennis en bevoegdhede te bemeester en die aanvaarding van innovasie en verandering te fasiliteer, en maak ook vir persoonlike en professionele ontwikkeling voorsiening.

“Die korporatiewe wêreld vereis dat werkers die hele tyd nuwe vaardighede aanleer. As gevolg van outomatisering en KI, verander posbeskrywings en sommige rolle raak uitgedien, terwyl nuwe vaardighede benodig word. Lewenslange leer is dus ’n prioriteit en het ’n bemagtiger geword om in die werkplek te floreer. Die dienste wat die EVO aanbied, maak dit maklik om kortkursusse by te woon.

“In talle professionele bedrywe moet ’n aantal CPD-kursusse voltooi word om loopbaanbevordering of registrasie moontlik te maak. CPD-kursusse word vereis deur onder andere die Raad vir Gesondheidsberoepe in Suid-Afrika, die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders, die Ingenieursraad van Suid-Afrika en die Finansiële Beplanningsinstituut van Suider-Afrika, om maar net ’n paar te noem.”

Dink jy nieformele programme by universiteite word soms nie na waarde geskat nie?

“Formele kwalifikasies sowel as nieformele leerprogramme speel ’n belangrike rol om te verseker dat mense met die eise van die werkplek kan byhou. Mense woon dikwels kortkursusse by om hulle vaardighede te verbreed op gebiede wat buite hulle formele kwalifikasies val.”

Hoe slaag die EVO daarin om in die behoefte aan kritieke vaardighede te voorsien?

“Ons kan deur middel van marknavorsing en ons interne kwaliteitsversekeringsprosesse kortkursusse vir ’n bepaalde teikenmark ontwikkel. Die NWU kan deur die gesamentlike pogings van akademici in die fakulteite en pasklaar ondersteuning van die EVO enige tyd en op enige plek vinnig ’n diens lewer.”

Waarom is jy opgewonde oor wat die toekoms vir die EVO inhou?

“Ek is baie opgewonde oor die aanlyn leermoontlikhede wat deelnemers in staat stel om teen hulle eie tempo ’n kursus te volg op ’n tyd wat hulle pas. Die EVO het groot vordering gemaak deurdat sy diens deur outomatisering en geïntegreerde stelsels aan interne en eksterne kliënte beskikbaar is. Die registrasie, betaling, studente-ondersteuning met behulp van die leerbestuurstelsel en sertifisering sal spoedig deur ’n geïntegreerde stelsel gedoen word en prosesse wat per hand gedoen moes word, uitskakel en die dienslewering aan ons kliënte verbeter. Digitale sertifikate sal ook in die nabye toekoms beskikbaar wees.”

Is daar enige wanopvattings oor die EVO wat jy graag wil noem?

“Die EVO het ontwikkel vanaf ’n eenheid wat kortleerprogramme op ’n geskeduleerde kontakbasis aanbied tot ’n eenheid wat kortkursusse in verskeie modaliteite kan aanbied: aanlyn, hibried, deur fasiliteerders gelei, selfgedrewe en kontak, afhangend van die behoeftes van die kliënt. Hoewel die EVO ’n register van goedgekeurde kortkursusse het wat aangebied kan word, is dit ook moontlik om pasklaar-leerprogramme wat op die kliënt se behoeftes gebaseer is, te ontwikkel en te skep.”

Einde

Dit is duidelik dat selfgerigte leer die sleutel is vir professionele persone om toekomsmoontlikhede te ontsluit en loopbaansukses te bevorder. Die NWU is ’n ideale vennoot om deur middel van kursusse wat deur die universiteit se fakulteite in samewerking met die EVO aangebied word, lewenslange leer ’n opwindende reis te maak.

Submitted on Wed, 03/08/2023 - 15:23