Eagles vlieg steeds hoog in die Varsitybeker

Hulle het maar net daardie iets, nie waar nie? Die agterlyn glip seepglad deur hulle teenstanders terwyl die voorspelers soos ’n trop woedende buffels almal uit hulle pad loop. Die Noordwes-Universiteit (NWU) Eagles het op Maandag 20 Januarie vyf drieë opgestapel toe hulle die Central University of Technology (CUT) se Ixias met 45-28 op die Fanie du Toit sportterrein in Potchefstroom geklop het.

Die Eagles was rustyd 23-12 voor teen die dapper besoekers van Bloemfontein. Voor die afskop was die Ixias tweede op die punteleer van die Varsitybeker – net ná die Eagles – en dus was niks ’n uitgemaakte saak nie. Die Ixias is tot dusver die verrassing van die toernooi, maar die Eagles het hulle glad nie van stryk laat bring nie.

Ntobeko Shezi, Vernon Paulo en Matthee Fortuin het elkeen voor rustyd ’n drie vir die uiteindelike oorwinnaars aangeteken, terwyl Matthee en Aphelele Madaka elkeen die doellyn in die laaste 40 minute besoek het. Zinedine Robinson het vier doelskoppe oorgeklits en Martin Venter nog een. Robinson en Venter het ook elkeen ’n strafskop bygevoeg.

Met hierdie oorwinning het die Eagles hulle posisie boaan die punteleer vasgemaak. Ná vyf wedstryde het hulle 22 punte, gevolg deur Universiteit Stellenbosch se Maties met 19, die Universiteit van Kaapstad se Ikeys met 16, en die Ixias met 16.

Die Eagles kom nou op 27 Maart by die Green Mile Stadion in Kaapstad, wat bekend is vir sy wispelturige wind, teen die Ikeys te staan. Dit is een van ’n paar uitdagings wat vir afrigter Burger van der Westhuizen en sy manne op hulle pad na die uitspeelrondtes voorlê.

Met net twee rondtes oor, begin dit al hoe meer lyk of daar ’n halfeindstryd in Potchefstroom gaan plaasvind. Ons hou duim vas.

...

 Dit is hoe kampioene dit doen!

Foto: Barco Greeff

Submitted on Fri, 03/24/2023 - 11:24