Almal staan gereed en die fluitjie gaan binnekort blaas. Op 14 Februarie gaan rugby weer op ons skerms en op ons tersiêre-onderwysvelde ontplof wanneer die 2022 Varsitybeker begin.
Dit is oorlog in sy genotvolste vorm. Die NWU Eagles en die UK Ikeys gaan mekaar heel eerste op die Fanie du Toit Sportterrein in Potchefstroom pak, en aan die spits van die span sal die nuwe kaptein, Ruan Swiegers, uitdraf. ’n Week later kom die Eagles teen die Universiteit van Wes-Kaapland te staan, weer eens langs die Mooirivier, voordat hulle Johannesburg toe vertrek om UJ te konfronteer.
In rondte 4 van die tienspantoernooi gaan die Eagles met Tuks in Potchefstroom koppe stamp voordat hulle koers kry vir hulle wedstryd teen die UVS se Shimlas in Bloemfontein. Volgende kom Maties in Stellenbosch aan die beurt, dan die Madibaz in Potchefstroom, die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein en Wits in Potchefstroom.
Die halfeindstryd begin op 18 April, gevolg deur die eindstryd ’n week later. Daar lê ’n moeilike taak vir al die betrokke spanne voor, aangesien daar hierdie keer geen loslootjies is nie. Afrigter André Pretorius, vlugvoetige voormalige toetsspeler, gaan hierdie uitdaging met albei hande aangryp en het sekerlik ’n hele paar planne wat hy in die mou voer.
Dit gaan ’n baie spesiale Valentynsdag wees.