Terwyl die debat oor die effek van fossielbrandstowwe op klimaatsverandering voortwoed, word indringende vrae oor die gebruik van fossielbrandstof as ’n groot deel van die land se energieproduksiepakket gevra. Nou vra prof Marco le Roux van die Fakulteit Ingenieurswese by die Noordwes-Universiteit (NWU) die volgende: Is dit steeds eties om steenkoolnavorsing in Suid-Afrika te doen?
Le Roux, wat as die direkteur vir die Sentrum vir Ingenieursonderwys dien, verduidelik dat – volgens die Internasionale Energie-agentskap – net meer as 80% van die wêreld se energie deur fossielbrandstowwe verskaf word, terwyl steenkool 26,8% daarvan bydra. Hierdie persentasie styg tot net onder 40% vir elektrisiteitsopwekking in die besonder. Hy sê verder dat hierdie bydrae deur steenkool konstant gebly het sedert 1971, toe steenkool vir 26,1% van die wêreld se energiemengsel verantwoordelik was. Die totale vraag na energie wêreldwyd het egter sedertdien met 260% toegeneem, en die bydrae van steenkool alleen het die hoogte ingeskiet. Die emissies wat met hierdie energiebron verband hou, het gevolglik ook toegeneem.
“Dit is ’n onbetwisbare feit dat fossielbrandstowwe ’n negatiewe uitwerking op die volhoubaarheid van die wêreldomgewing het, en bydra tot kweekhuisgasse wat vrygestel word en wat aardverwarming tot gevolg het,” sê Le Roux.
Kom ons kyk na die prentjie wat deur Suid-Afrika se energieprobleme geskilder word.
“Die huidige energielandskap in Suid-Afrika is in ’n droewige toestand en het uitgeloop op ’n ramptoestand wat op 9 Februarie 2023 deur die president aangekondig is, waarna hy ’n Minister van Elektrisiteit aangestel het om ’n mank elektrisiteitsvoorsiener te help red. As gevolg van regsprobleme is die ramptoestand egter in April herroep ná vrese vir korrupsie ook aan die lig gekom het. Dit het die land in onrus gedompel, met elektrisiteitsonderbrekings, of beurtkrag, wat tot onlangs toe nog elke dag in 2023 voorgekom het. Tans word 70% van Suid-Afrika se totale energieverbruik deur steenkool verskaf. Daar is ’n klein klompie hernubare-energiebronne wat ontstaan het, maar fossielbrandstowwe oorheers steeds, met steenkool wat die vernaamste is en wat sedert 1965 tussen 70% en 80% van ons energie verskaf,” gaan hy voort.
“Die tempo van die oorgang na hernubare-energiebronne bly stadig, en dus word hierdie sektor steeds deur fossielbrandstowwe oorheers. As ’n mens in gedagte hou dat Suid-Afrika ’n skaarste aan ruolie het en amper 90% van al sy ruolie van hoofsaaklik Saoedi-Arabië en Nigerië moet invoer, kan die afhanklikheid van steenkool ’n bekommernis raak. Die situasie is erger wanneer ons na die opwekking van elektrisiteit kyk. Daar is gerapporteer dat 80,1% van Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsiening vir 2022 deur steenkoolkragstasies opgewek is.”
Hoewel hernubare-energiebronne toenemend deel van die antwoord op Suid-Afrika se energieprobleme moet vorm, bly steenkool ’n groot deel van die vergelyking.
Volgens Le Roux domineer China tans die lewering van steenkoolnavorsing, nadat hulle die VSA rondom 2004 verbygesteek het. Vir lande soos die VSA het steenkoolnavorsing afgeneem, maar BRICS-lande soos China, Indië en Rusland het ’n duidelike toename in navorsingsuitsette getoon.
“Hoewel dit ’n bietjie meer wisselvallig is, volg Suid-Afrika die BRICS-tendens, en toon die afgelope twee dekades ’n toename in steenkoolverwante navorsingsuitsette.”
Voorspellings toon dat Suid-Afrika ná 2050 steeds vir basislaselektrisiteit van steenkool afhanklik sal wees. Daarom bly dit die verantwoordelikheid van kundiges om voort te gaan met navorsing om steenkoolverbruik te optimaliseer, emissies te beperk en uitgediende terreine te rehabiliteer.
Die wêreld, en veral ontwikkelende lande soos Suid-Afrika, gaan nie vir die afsienbare toekoms sonder fossielbrandstowwe klaarkom nie. Selfs al is die Just Energy Transition ’n werklikheid en ’n prysenswaardige doelstelling, is dit vir enige land noodsaaklik om ’n stabiele energiebasislas te hê. Dit is binne hierdie raamwerk dat die ontwikkeling en optimalisering van die gebruik van fossielbrandstowwe prioriteit moet geniet. Dit sal onvermydelik tot koolstofneutraliteit lei deur koolstofemissies te elimineer en tot die optimale gebruik van hierdie eindige hulpbron by te dra.
“Vir Suid-Afrika sal die fossielbrandstof wat gebruik word steenkool wees, aangesien daar groot neerslae beskikbaar is. Om te streef na die optimalisering van prosesse regoor die steenkoolwaardeketting, die vermindering en uitskakeling van water by steenkoolverwerkingsaanlegte, die beheer van emissies saam met koolstofopvangs en die stoor daarvan, volhoubare rehabilitasie van grond en die herontplooiing van die huidige arbeidsmag, sal daar ongetwyfeld ’n bydrae tot ’n goeie toekoms vir toekomstige geslagte gelewer word. Binne hierdie konteks – en sonder om die maatskaplike vordering te skaad – bly steenkoolnavorsing ’n integrale deel en waardevolle bydraer om te help om die doelwitte van die Verenigde Nasies se Klimaatsveranderingkonferensie te bereik wat deur 196 deelnemers aanvaar is en in 2016 tot uitvoer gebring is.”
*Die Noordwes-Universiteit is daartoe verbind om deur sy verskillende pogings te help om die Verenigde Nasies se Volhoubare-ontwikkelingsdoelwitte te bereik sodat die samelewing as geheel daarby kan baat.
Prof Marco le Roux