Die druk wat op die onderwysstelsel in Suid-Afrika is, kan nie ontken word nie, en die toenemende uitdagings wat die land se jeug in die gesig staar, is selfs groter, om nie te praat van dit wat die onderwysers moet hanteer terwyl hulle verseker dat hierdie jeug opgevoed word nie.
Ten spyte van die beste pogings van soveel toegewyde onderwysers, knak die onderwysstelsel se knieë onder die gewig van eksterne invloede soos die nadraai van Covid, hardnekkige korrupsie en beurtkrag, om maar net ’n paar te noem. Die Noordwes-Universiteit (NWU) is vasberade om ’n pilaar te wees waarop die onderwysstelsel kan rus, maar meer nog op kan vertrou, en een van die maniere waarop die universiteit dit doen, is deur die navorsingseenheid Onderwys en Menseregte in Diversiteit (Edu-HRight).
Hierdie eenheid, wat by die Fakulteit Opvoedkunde by die NWU gehuisves word, doen navorsing wat ’n kritieke rol speel om aandag te gee aan die grootste uitdagings wat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel in die gesig staar. Hierdie navorsing verskaf insig in bewyse van en voorspraak vir onder andere beleid en kurrikulumverwante hervormings.
Want, soos eksterne studies bewys het, lyk die land se onderwysprenthie nie goed nie. Die studie oor die vordering in internasionale leesgeletterdheid (Progress in International Reading Literacy Study, PIRLS) het in 2021 bevind dat agt uit 10 skoolkinders in Suid-Afrika sukkel om te lees. Die Reading Panel Background Report van 2023 het bevind dat 82% van graad 4-leerders nie met begrip kan lees nie. Daar is nog vele meer van hierdie droewige toestande.
Edu-HRight help egter deur middel van hulle navorsing om hierdie toestand te verbeter. Volgens ’n deel van die kerngroep van die Edu-HRight-span – wat bestaan uit prof Johan Botha (navorsingsdirekteur by Edu-HRight) en subarealeiers prof Ewelina Niemczyk, prof Ferdinand Potgieter, dr Shantha Naidoo, Dr Nicholus Mollo, Dr Celestine Mayombe, en Prof Shan Simmonds – is een van die vernaamste uitdagings wat die land se onderwysstelsel in die gesig staar ongelykheid, aangesien Suid-Afrika steeds een van die ongelykste onderwysstelsels ter wêreld het. Ander uitdagings sluit infrastruktuur en geriewe in, aangesien die meeste openbare skole nie voldoende infrastruktuur en geriewe het nie, wat die leeromgewing aan bande lê. Dit sluit probleme in soos swak sanitasie, onveilige geboue en ’n gebrek aan geriewe.
“Die gehalte van onderwys in talle Suid-Afrikaanse skole, veral in die minderbevoorregte gebiede, bly ’n groot bekommernis. Ná amper dertig jaar van ’n demokratiese regering in Suid-Afrika is van die hardnekkigste kwessies oorvol klaskamers, ’n tekort aan gekwalifiseerde en begeesterde, entoesiastiese onderwysers, asook ’n alomteenwoordige gebrek aan noodsaaklike hulpbronne soos handboeke en onderrigmateriaal,” verduidelik die span.
Die tekort aan onderwysers; die kwessies van geweld en veiligheid, veral by skole in stedelike gebiede; die beperkte toegang tot onderwys vir vroeë kinderontwikkeling – wat noodsaaklik is vir toekomstige akademiese sukses; die digitale gaping waar talle studente gebrekkige toegang tot die nodige tegnologie en die internetkonnektiwiteit vir afkampusleer het; asook befondsing en begrotingsbeperkings staan sentraal in die navorsing by Edu-HRight. En, stap vir stap, navorsingsuitset vir navorsingsuitset, word antwoorde op hierdie dilemmas ondersoek en ontdek.
Die span hou ook ’n oog op die toekomstige indiensnemingsmoontlikhede vir huidige studente.
“Die kurrikulum in Suid-Afrika het veranderings ondergaan, maar bekommernisse oor die relevansie daarvan ten opsigte van die internasionale arbeidsmark en die wêreldwye samelewing bestaan steeds. Ons eie eenheid se navorsing toon dat die behoefte aan ’n kurrikulum wat leerders vir hoër onderwys sowel as die arbeidsmag voorberei, nou dringender as ooit tevore in die geskiedenis van hierdie land is.”
Die land se onderwysstelsel het ’n berg om uit te klim indien dit aan studente die geleenthede en hulpbronne wil bied wat hulle nie net nodig het nie, maar ook verdien, sodat hulle sukses kan behaal. Deur die NWU se verbintenis om te help om die 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte van die Verenigde Nasies (United Nations Sustainable Development Goals, SDGs) te bereik, waarvan SDG 4 (gehalte-onderwys) sê dat dit belangrik is om inklusiwiteit en billike gehalte-onderwys en die bevordering van lewenslange leergeleenthede vir almal te verseker, is dit moontlik om die kruin te bereik.
Soos die span sê: “Ons glo dat navorsing by Edu-HRight sal voortgaan om as kragtige instrument te dien vir die identifisering van, begrip vir en hantering van die uitdagings wat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel in die gesig staar. Deur die beginsels van gelykheid, niediskriminasie en die reg op onderwys na te kom, sal ons eenheid se navorsing voortgaan om ’n bydrae te lewer tot die ontwikkeling van maatskaplik-relevante beleide en opvoedkundige praktyke wat tot ’n billiker en inklusiewe onderwysstelsel in Suid-Afrika sal lei.”