’n Mens kan nou saans sonkragstowe gebruik om warm etes voor te berei, aangesien termiese energie in stelsels gestoor kan word. Sommige stelsels werk egter beter as ander, en daar is ruimte vir verbetering. So sê prof Ashmore Mawire van die navorsingsgroep vir sontermiese energie by die Noordwes-Universiteit (NWU).
Hy het onlangs ’n openbare lesing gegee waar hy vorige en huidige navorsingsresultate bespreek het van die groep, wat onder die navorsingfokusarea Materiaalwetenskap-innovasie en -modellering (MaSIM) val.
Eksperimentele situasies en die resultate van verskillende stoorstelsels vir termiese energie (TES) vir sonkragstowe is voorgelê.
Die eerste deel van sy aanbieding het gegaan oor die eksperimentele eienskappe van stoormateriaal vir termiese energie wat vir sonkragstowe gebruik kan word.
Prof Mawire sê dat voedselgraadmateriale soos sonneblomolie en eritritol (’n versoeter), wat plaaslik beskikbaar is, gebruik is om die koste te verlaag van materiaal wat vir storing en voedselveiligheid gebruik is.
“Daar is bevind dat sonneblomolie en eritritol goeie stoormateriale vir sonkragstowe is in tye wat die son nie skyn nie.”
Die tweede deel van die aanbieding het gekyk na werklike sonkragkooktoetse met die gebruik van stoorkastrolle wat sonneblomolie en eritritol as stoormateriaal bevat. “Eritritol vaar beter as sonneblomolie tydens die kookproses wat met gestoorde hitte kook, terwyl sonneblomolie beter vaar wanneer daar direk met sonkrag gekook word,” sê hy.
’n Sonkragstoof met ’n afsonderlike TES-eenheid is ook eksperimenteel geëvalueer.
Die stelsel kan kos kook terwyl dit tegelykertyd hitte vir latere gebruik in ’n stoortenk bêre. Die doeltreffendheid van hittebenutting nadat termiese energie gestoor is, is egter laag, en kan verbeter word.
Die resultate van ’n sonkrag-voedseldroeër is ook voorgelê.
Die resultate het getoon dat dit moontlik is om appels en piesangs met ’n sonkragdroëer te droog. Die droeër kan ook saam met TES gebruik word sodat ’n mens saans met TES kan werk.
Verbruikers was egter traag om huishoudelike sontermiese voedselvoorbereidingstoestelle te gebruik. Prof Mawire skryf dit toe aan ’n gebrek aan navorsing oor die sosio-ekonomiese aspekte van sonkragtoestelle, wat insluit dat dit deur die eindgebruiker aanvaar moet word, en die koste en die lewensduur van die stowe.
Oor prof Ashmore Mawire
Prof Mawire het ’n PhD-graad in toegepaste fisika van die NWU, wat hy in 2010 verwerf het. Hy is ’n professor in die vakgroep Fisika aan die NWU, en is die hoofnavorser in die sontermiese groep van die navorsingfokusarea Materiaalwetenskap-innovasie en -modellering (MaSIM). Hy is ook die direkteur van MaSIM.
Sy navorsingbelangstellings sluit elektroniese instrumentasie, hernubare energiestelsels, hitte-oordrag en sontermiese energiestoringstegnologie in. Hy het al meer as 40 hoë-impakfaktor-ISI-vaktydskrifartikels gepubliseer en referate by meer as 40 portuurbeoordeelde internasionale konferensies gelewer. Sy artikels fokus hoofsaaklik op huishoudelike sontermiese energiestoringstoepassings vir voedselvoorbereiding. Prof Mawire is ’n Nasionale Navorsingstigting C2-gegradeerde navorser.
Prof Ashmore Mawire
Dié eksperimentele opstelling kan gebruik word in die opleiding van mense wat min of geen kennis van sonkragpanele.