Die wêreld lê oop voor Thandi Hlotshana

Thandi Hlotshana is op pad om die wêreld te sien. Hierdie borrelende 23-jarige, wat van die Oos-Rand af kom, is ’n finalejaar-BA-student in bedryfsielkunde en arbeidsverhoudinge aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en het ’n Abe Baily-beurs gewen – een van slegs 18 ontvangers daarvan in die land.

Sy gaan op 24 November vir die eerste keer Suid-Afrika se grense verlaat en ’n reis aanpak wat haar vir drie dae na Addis Abeba in Ethiopië gaan neem, en dan vir drie dae na Londen, dan Skotland toe vir vyf dae voordat sy vir ’n ondervragingsessie terugkeer Londen toe.

“Ek is verskriklik opgewonde. Ek kan nie wag om die verskillende perspektiewe, die verskillende kulture en die verskillende agtergronde te ervaar nie. Ek kan nie wag om die wêreld te sien nie!” roep Thandi uit.

Ontvangers van die beurs is by 22 universiteite gekies en die vereistes vir die beurs sluit ’n goeie akademiese rekord, gemeenskapswerk en sterk leierskapsvaardighede in.

Hoewel sy dit nie sommerso erken nie, is dit iets waaraan sy heeltemal voldoen, aangesien sy vanaf ’n vroeë ouderdom by gemeenskapswerk betrokke is. So lank as wat sy kan onthou, besoek Thandi al kinderhuise en tehuise vir bejaardes, en sy is ook ’n portuurhelper by Studentevoorligting en -ontwikkeling.

Leierskap is egter haar sterk punt. “Leierskap vra integriteit en ’n besef van wat reg is. Dit behels dat jy nie van jou einddoel afstand doen nie. Ons leiers in Suid-Afrika moet begin om te verstaan dat leierskap nie ’n gewildheidskompetisie is nie. Dit gaan daaroor dat jy doen wat reg is, en nie wat jou persoonlike gevoelens vir jou voorskryf nie,” verduidelik sy entoesiasties.

Sy het by die NWU se kampus in Vanderbijlpark ’n uitlaatklep vir haar passie ontdek. “Dit was ʼn voorreg om by ’n universiteit te studeer wat my in staat gestel het om my leierskapspotensiaal te ontwikkel en my toegelaat het om die verskeie rigtings wat ons universiteit bied, te ondersoek.”

En nou, ’n paar jaar later, is dit au revoir Suid-Afrika.

“My ma was geskok! Sy het gesê: “My kind, jy was nog nooit oorsee nie. Ek is só bly vir jou part, maar Engeland is koud en jy weet hoe dit jou aantas.”

Stormagtige weer en ’n vreemde nuwe wêreld. Bring die uitdagings, want Thandi is gereed om te leer, en sy skram nie weg van die taak wat voorlê nie.

“Ek wil almal aanmoedig om nooit te dink hulle kan iets nie doen nie. Verander die manier waarop jy dink. Omring jouself met mense wat jou nie sien soos jy nou is nie, maar hoe en waar jy oor vyf jaar gaan wees.”

En, wat hou die toekoms vir haar in?

“Ek sien myself in die parlement,” sê sy sonder aarseling. “Ek wil mense inspireer om dinge buite die grense van hulle bestaan te bereik. Moet jouself nooit geringskat nie, herhaal sy voordat sy verder gaan: Dink buite ons grense. Die wêreld wag op ons.”  

 Hou vir Thandi Hlotshana dop – sy gaan groot dinge doen.

Submitted on Wed, 10/16/2019 - 15:21