Die verskuilde koste van ’n gebroke befondsingstelsel: Suid-Afrika se openbare universiteite

Prof Linda du Plessis, Senior Adjunk-visekanselier: Onderrig-en-Leer aan die Noordwes-Universiteit (NWU), verduidelik waarom die voortdurende wanfunksionering van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) en verskeie Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede (SETAs) nie net die toekoms van kwesbare studente in gevaar stel nie, maar ook enorme druk op Suid-Afrika se openbare universiteite plaas. Alhoewel die fokus hoofsaaklik op studente se swaarkry val, bly die verlamlende operasionele, finansiële en reputasionele impak op universiteite grootliks ongesiens. Dit bedreig universiteite se vermoë om gehalte-onderrig te lewer, infrastruktuur volhoubaar te bestuur en nasionale ontwikkeling aan te dryf.

Prof du Plessis: “Die wanfunksionering van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) en verskeie Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede (SETA’s) was die fokus van talle onlangse mediaberigte. Hierdie fokus is noodsaaklik, aangesien dit ’n direkte uitwerking op die akademiese reis en toekoms van Suid-Afrika se kwesbaarste studente het. Wat egter steeds min of geen erkenning ontvang nie, is die las wat hierdie mislukkings juis op daardie instellings plaas wat hoër onderwys van gehalte moet lewer: die openbare universiteite.

Universiteite dra reeds jare lank die las van die NSFAS se wanbestuur, dikwels sonder enige sinvolle vooraf konsultasie of ondersteuning. Hoewel minister Nkabane en haar departement steeds hervormings belowe, bly universiteite aan die ontvangkant van ’n verbrokkelende stelsel wat vinnig besig is om onvolhoubaar te raak – nie net vir studente nie, maar ook vir die instellings self.

Die NSFAS is gestig om te verseker dat geen student weens finansiële struikelblokke toegang tot hoër onderwys ontsê word nie. Nietemin – ten spyte van noukeurige beplanning deur universiteite – begin elke akademiese jaar met chaos: vertraagde befondsing, die onttrekking van studente se befondsing in die middel van die jaar, en tienduisende studente wat in onsekerheid gedompel word oor verblyf. Hierdie kwessies raak nie net die studente nie – dit lê ook universiteitsbedrywighede lam.

Universiteite is nie winsgedrewe instellings nie, maar funksioneer as finansieel aanspreeklike openbare entiteite. Die betaling van munisipale rekeninge, instandhouding van infrastruktuur, lisensies vir ’n IT-infrastruktuur om digitale innovasie moontlik te maak, en die betaling van salarisse is maar ’n paar van die basiese dinge wat van enige goed bestuurde instelling verwag word. Suid-Afrika het geen tekort aan voorbeelde wat wys hoe jare lange beperkte instandhouding infrastruktuur en kantoorruimte wat vroeër funksioneel was, onbruikbaar gelaat het nie.

Wat moet ’n openbare universiteit dan doen wanneer die NSFAS nie fondse betyds uitbetaal nie? Universiteite word in die onhoudbare posisie ingedwing waar hulle óf

registrasie moet weier óf die koste van registrasie en onderrig self moet dra, en dus prakties gesproke krediteure word in ’n verhouding waartoe hulle nooit ingestem het nie. Wanneer verhuurders weier om studente verder te akkommodeer as hulle huur nie betaal word nie, word die universiteit geblameer. Instellings moes al spertye vir registrasie aanskuif, met verhuurders oor bepalings vir korttermynbetalings onderhandel, en die toenemende regmatige frustrasie en opstand van studente bestuur. Hulle moet ’n krisis hanteer wat hulle nie veroorsaak het nie.

Befondsingsuitdagings raak die kernbestaan van universiteite en ontwrig onderrig en leer. Terwyl die publiek brandende bande en woedende slagkrete sien, word die geweldige tol wat die instellings betaal om dinge te laat werk, nie raakgesien nie. Akademiese jaarboeke moet herhaaldelik aangepas word, en hierdie veranderinge gaan met bykomende koste gepaard. Hoewel die begroting vir hoër onderwys voortdurend verhoog word, word die grootste deel daarvan aan befondsing vir die NSFAS toegeken, eerder as om universiteite uit te brei of navorsing en innovasie te bevorder.

Die situasie binne die SETA’s voeg net meer druk by. Die taak van SETA’s is om vaardigheidsontwikkeling te fasiliteer, en die potensiële impak van hierdie liggame is geweldig. Politieke aanstellings en swak bestuur het egter baie van hierdie instellings ondoeltreffend gemaak. Die onlangse bewerings oor die aanstelling van persone met politieke bande is bloot net nóg ’n voorbeeld van hoe politiek in die hoëronderwys- en opleidingsektor prioriteit bo meriete en aanspreeklikheid kan ontvang. Universiteite is afhanklik van SETA-vennootskappe vir geleenthede vir werkgeïntegreerde leer, befondsing van internskappe vir gegradueerdes, en samewerking met die bedryf. Wanneer SETA’s faal, word universiteite weer eens gedwing om die gaping te vul.

Die idee dat universiteite gegradueerdes as gevolg van studenteskuld van die arbeidsmark uitsluit, is ’n simplistiese interpretasie van ’n komplekse probleem. Openbare universiteite wil graag toesien dat alle gegradueerdes ’n bydrae in die verskillende sektore van die ekonomie lewer – hetsy as werknemers of as entrepreneurs. Universiteite kan egter nie voortgaan om te funksioneer indien daar van hulle verwag word om sonder finansiële beplanning ’n gratis diens te lewer nie, veral nie wanneer staatsdepartemente wat vir daardie befondsing verantwoordelik is self in wanorde verkeer nie. Openbare universiteite is nie bloot diensverskaffers nie – hulle is nasionale bates wat die taak het om lewens te transformeer, navorsing te produseer, innovasie te dryf en die toekomstige arbeidsmag van Suid-Afrika te vorm. Dit is dus noodsaaklik om te fokus op die impak van befondsingsuitdagings wat hierdie instellings ervaar en ook op die wanfunksionering wat dit skep.

Hervorming sal meer as kosmetiese veranderings en beloftes verg. Dit vra ’n fundamentele herbesinning oor hoe om ’n volhoubare finansiëlehulpmodel vir studente daar te stel. Dit vereis ’n gesonde en aanspreeklike bestuur. Die finansiële stabiliteit,bedryfsdoeltreffendheid en reputasie van openbare universiteite is op die spel. Om uitnemendheid te handhaaf binne ’n stelsel wat faal, is moeilik.”

1

Prof Linda Du Plessis

Submitted on Thu, 07/10/2025 - 09:51