“Die staatsrede wat op 10 Februarie deur president Cyril Ramaphosa aan die Parlement gelewer is, was ’n eerlike en realistiese evaluering van die huidige sosio-ekonomiese uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar en die dringende behoefte om dit doeltreffend te hanteer.”
In sy kommentaar op die staatsrede sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, ’n rede vir optimisme was die basiese erkenning in die staatsrede dat die regering nie werk skep nie, maar dat dit die sakewêreld is wat die meeste poste op ’n volhoubare grondslag kan skep.
“Die ekonomiese herstel word dus aan die privaat sektor toevertrou, en dit moet met tasbare optrede gekoester word, maar die sakesektor kan net volledig reageer as daar ’n klimaat van beleidsekerheid en voorspelbaarheid is waarin hulle kan optree.”
Prof Parsons sê die agenda van die staatsrede bied ’n platform waarvandaan dit moontlik word. “Die reaksie van die sakesektor sal belangrik wees om die voornemens van die staatsrede in reële beleggings en groei te omskep, insluitend die sterk aanmoediging van klein besighede. Slim besluite moet rompslomp vervang.”
Volgens hom is dit die verantwoordelikheid van die regering om ’n beleidsomgewing te skep wat die privaat sektor aanmoedig om arbeidsryke groei te bevorder en wat help om die nodige ekonomiese ontwikkeling te bewerkstellig.
“’n Groter rol vir die privaat sektor is dus ’n welkome eienskap van die staatsrede. ’n Positiewe aspek van die staatsrede was die omvattende aankondiging van verskeie ekonomiese hervormings, en veral die mate waartoe daar ’n verbintenis tot tydlyne vir lewering en aanspreeklikheid vir uitkomste is.”
Prof Parsons sê hierdie tydlyne moet afgedwing word om geloofwaardigheid en vertroue te verseker. Dit word vereis om die beleggersvertroue te bou wat nodig is om Suid-Afrika se werklike ekonomiese potensiaal te ontsluit en arbeidsryke resultate te bevorder. Hoewel dit nodig is om die spesiale maatskaplike toelae van R350 per maand vir nog ’n jaar te verleng, moet die doelwit oor die lang termyn wees om mense uit maatskaplike ondersteuning na werk toe te verskuif.
“Daar is steeds vrae oor die haalbaarheid en bekostigbaarheid van ’n permanente basiese-inkomstetoelae (BIT). Inklusiewe groei is nie bloot ’n staatsverantwoordelikheid nie, maar vereis trouens samewerking van alle sleutelbelanghebbers in die ekonomie.”
Hy glo dat die groot toets bly om te verseker dat die hervormings wat in die staatsrede aangekondig is en die goeie bestuurstoesig wat nodig is nou uitkomste sal oplewer – en dat implementeringsrisiko’s vir verskeie beleide en projekte beslis progressief verminder sal word.
“Sywaartse verskuiwing (drift) is die vyand van lewering. Die energiekrisis as die Achilleshiel van die Suid-Afrikaanse ekonomie word in de staatsrede erken. Daar was ook kwaai woorde oor staatskaping en korrupsie in die staatsrede. Koördinasie en samehang in beleid en projekte bly nietemin noodsaaklik.”
Prof Parsons sê die aspirasies van die staatsrede is voor die hand liggend. “Indien dit suksesvol gerealiseer word, kan die staatsrede ’n rigtingverandering in die ekonomiese rekonstruksie en herstel van Suid-Afrika wees. Die ekonomie is nie op spoedbeheer nie. Met verskeie gesaghebbende voorspellings wat daarop dui dat Suid-Afrika se groeipotensiaal teen 2024 slegs 1% kan wees, is daar ’n gevoel van dringendheid om te verseker dat die belangrikste hervormings in die staatsrede gouer eerder as later geïmplementeer moet word om die ekonomie se groeitrajek te verbeter.”