Die pad na ’n blink toekoms

’n Afvaardiging van die Verenigde State (VSA) se konsulaat in Johannesburg het die Noordwes-Universiteit (NWU) op Donderdag 4 April besoek as deel van hulle projek om studente vir die gesogte en wêreldbekende Fulbright Program te werf en hulle meer daarvan te vertel.

Die afvaardiging het ’n inligtingsessie oor Fulbright-geleenthede gehou wat by die NWU se Potchefstroomkampus plaasgevind het, maar dit is ook na die Vanderbijlpark- en Mahikengkampus gestroom.

Die Fulbright Program is een van die Verenigde State se vlagskip- internasionale opvoedkundige uitruilprogramme en is in 1946 deur senator J William Fulbright van Arkansas in die lewe geroep. Meer as 380 000 studente uit meer as 160 lande het al aan die uitruiling deelgeneem, van wie meer as 2 000 Suid-Afrikaners was. Die eerste Suid-Afrikaanse ontvanger daarvan het in 1953 na die Verenigde State gereis om aan die Harvard Universiteit te studeer.

Jeff Ladenson, die beampte vir openbare aangeleenthede by die VSA se konsulaat-generaal in Johannesburg, is deel van die span wat in beheer is van die opvoedkundige uitreik- en uitruilprogramme vir Noordwes, Gauteng en die Vrystaat.

“Ons is vandag hier om met toekomstige deelnemers aan ons Fulbright Program te praat. Talle studente van die Noordwes-Universiteit het in die verlede van hierdie geleentheid gebruik gemaak en ons is baie opgewonde om vandag weer met hulle te praat. Die Fulbright Program is waarskynlik ons vernaamste uitruilprogram, deels omdat ons ’n lang geskiedenis het waar ons mense van regoor die wêreld na die Verenigde State stuur. Dit strek terug tot meer as 75 jaar,” sê Ladenson.

Dit word hoofsaaklik deur vyf programme gedoen, naamlik die Fulbright Foreign Student Program, die Fulbright South African Research Scholar Program, die Hubert H Humphrey Fellowship Program, die Fulbright Teaching Excellence and Achievement Program en die Fulbright US Specialist Program.

“Ons dring glad nie daarop aan dat studente ’n VSA-opvoeding bo ’n Suid-Afrikaanse een moet kies nie, aangesien daar duidelik uitstekende universiteite in Suid-Afrika is. Inteendeel. Ek dink een van die beginsels van akademiese studie is om ’n baie breë begrip van die wêreld te skep en ek dink dat hierdie program werklik help om dit te bevorder. Hierdie program sal help om studente se kundigheidsgebied te verbreed en aan hulle blootstelling aan die VSA se akademie te gee.”

....

 Afgevaardigdes van die VSA-konsulaat en die NWU by die Universiteit se Kantoor vir Internasionale Samewerking (Global Engagement Office).

Submitted on Tue, 04/18/2023 - 11:26