Die NWU se Franco Bosman slaan SAIGR-eksamen vir ʼn ses

Die uitslae van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) se Aanvanklike Toets van Bevoegdheid (“Initial Test of Competence”, ITC-eksamen) het vir die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe baie gegee om op trots te wees.


Die NWU het nie net ʼn 94%-slaagsyfer behaal vir kandidate wat dit die eerste maal geskryf het nie, maar spog ook met twee studente in die top 10, waarvan een die nommer-een-posisie in die hele Suid-Afrika beklee.

SAIGRA het die uitslae vir die Januarie 2019 ITC-eksamen op Vrydag, 29 Maart vrygestel.

Franco Bosman, wat die NWU se kampus in Vanderbijlpark verteenwoordig, het as nasionale toppresteerder studente van 15 ander deelnemende universiteite uitgestof.

Franco is tot graad 9 tuis onderrig, waarna hy vanaf graad 10 by die Hoërskool Dr Malan in Meyerton skoolgegaan het. Hy het in 2014 met sewe onderskeidings gematrikuleer, en is as tweede beste matrikulant in die Sedibengdistrik aangewys.

In 2015 het hy vir ʼn BCom Geoktrooieerde Rekenmeestersgraad by die NWU ingeskryf. Franco het die graad behaal en al sy modules met onderskeiding voltooi – met ʼn gemiddeld van 91,9%.

Franco het ook die uitdagende BComHons-graad in Geoktrooieerde Rekenmeesterskap met lof voltooi.

Franco doen tans sy akademiese artikels by die kampus in Vanderbijlpark terwyl hy aan sy meestersgraad werk. Daarna sal hy in 2020 die oorblywende deel van sy opleiding by Deloitte, een van die vier grootste rekeningkunde firmas in Suid-Afrika, voltooi.

Volgens prof Heleen Janse van Vuuren, direkteur van die Skool van Rekenkundige Wetenskappe, is die NWU verbind tot die lewering van geoktrooieerde rekenmeesters, veral ook omdat die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding dit as ʼn skaarsvaardigheid beskou.

Die voorgraadse program in geoktrooieerde rekenmeesterskap word op al drie NWU-kampusse aangebied. Die nagraadse kwalifikasie wat studente in staat stel om die ITC-eksamen te skryf, word op die kampusse in Potchefstroom en Vanderbijlpark aangebied.

 

Hier is Franco Bosman tydens sy eerste gradeplegtigheid. Van links is prof Susan Coetzee-Van Rooy, Franco, prof Heleen Janse van Vuuren en prof Herman van der Merwe.

Submitted on Thu, 05/02/2019 - 12:42