Die NWU se eentoets-slotwonders

Daar is twee stelle trappe wat na die eerste vloer van die Noordwes-Universiteit se Hoëprestasie-instituut lei. Soos jy teen die trappe opstap, sien jy aan die een kant foto's van sportbestuurders wat die NWU na die boonste vlakke van varsity-glorie gelei het. Helené Botha het die NWU se netbalspan gehelp om die Varsitybeker te verower, en so ook het Conrad de Swardt dit met krieket reggekry, Mervyn Taylor en Ronel Emms met rugby, en Terseus Liebenberg met atletiek. Op daardie vloer is daar ook foto’s van fenomenale afrigters soos Michael Seleka (sokker) en Hannes Esterhuizen (rugby). Laasgenoemde twee het meer toekennings as die woorde wat op hierdie bladsy verskyn.

Aan die ander kant is die kantore van Sheldon Rostron, Bestuurder: Sport, Corene Middleton en Lydia Stroebel, luitenante soos geen ander nie.

Maar daar is ook iets anders. Iets wat al vergete is. ’n Stukkie geskiedenis.

Aan die agterkant van hierdie ruimte, agter vergete tafels en stoele, is twee houtgedenkplate wat langs mekaar gemonteer is. Van jare terug tot 2007 gee dit die lys name van al die Springbokke wat die NWU opgelewer het. Dit sluit alle sportkodes in – die sogenaamde kleintjies asook die grotes.

Wat ’n mens opval, is die laaste inskrywing vir ’n Springbokrugbyspeler. Die NWU het weliswaar talle Springbokke vir Suid-Afrikaanse rugby opgelewer, maar die naam Schutte Bekker staan uit.

Bekker was ’n klipharde losvoorspeler wat min toegegee het en meer uitgehaal het as die belastinggaarder self. Hy was ’n ontoegeeflike reus van ’n speler. Hierdie lang ster, wat 193 cm in sy sokkies staan, is in Nelspruit gebore en het 59 wedstryde vir die ou Wes-Transvaal en  60 wedstryde vir Noord-Transvaal gespeel.   Hy het in daardie tyd nooit ’n drie gedruk nie. Hy het ook die Bulle in 27 Superrugbywedstryde verteenwoordig en het vir hulle drie drieë aangeteken.

Sy enigste verskyning in ’n toetswedstryd was in 1997 – op 23 Augustus 1997 in Pretoria as plaasvervanger in die laaste wedstryd onder die verguisde kapteinskap van Carel du Plessis. Die Bokspan het sterre soos André Joubert, James Small, Percy Montgomery, Joost van der Westhuizen, Os du Randt, Gary Teichmann en ene Johan Erasmus in sy beginspan gehad. Laasgenoemde is vandag beter bekend as die afrigter wat die Wêreldbeker gewen het, Rassie Erasmus.

Jannie de Beer was instrumenteel in die tuisspan se oorwinning. Hy het ses doelskoppe en drie strafskoppe oorgesit en ’n drie gedruk.

Daar moet gesê word dat dit ’n monster van ’n Aussie-span was. Burke, Tune, Little, Roff en Gregan was almal daar.

Dit was nie die enigste keer dat ’n NWU-speler in net een toets gespeel het nie. Franco van der Merwe, die reus van Hoërskool Hartswater, was ’n NWU- en Luiperds-staatmaker. Dié blonde blok van ’n man het op 30 in 2013  onder afrigter Heyneke Meyer sy toetsdebuut teen die All Blacksgemaak.  Hy het in die 61ste minuut in Bloemfontein in die laaste rondte van die rugbykampioenskap op die veld gedraf. Ten spyte van twee drieë deur Bryan Habana, het die tuisspan met 27–38 verloor.

 ’n Paar dekades vroeër het ’n ander NWU-slot, Johan Claassen, egter ’n bietjie beter gevaar ….

  

 

Submitted on Fri, 05/07/2021 - 08:08