Die NWU Besigheidskool ontvang nog ’n internasionale akkreditasie

Die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool het onlangs sy akkreditasie by die vereniging vir besigheidskole in Afrika (Association of African Business Schools, AABS) ontvang. Die NWU Besigheidskool is deur die senior bestuurder vir Akkreditasie en Kwaliteit, dr Lungile Ntsizwane, verteenwoordig by die 2023 AABS Connect-konferensie, wat deur die Ghana Institute of Management and Public Administration (GIMPA) in Accra aangebied is.

Die konferensie het op Woensdag 17 Mei met ’n toer van Accra afgeskop. Dit is gevolg deur die AABS-lede se jaarvergadering, waar die AABS-komitee die lede oor die vereniging se huidige stand ingelig het.

Daar was afgevaardigdes van meer as 30 besigheidskole van regoor die wêreld en die tema van hierdie jaar se konferensie was: “Is besigheidskole relevant in Afrika?” Die doel was om besprekings aan die gang te sit en insigte te deel oor hoe besigheidskole in Afrika erkenning gee aan die behoefte dat besigheidsopvoeding relevant moet wees en dat hulle ook vir Afrika se unieke uitdagings en geleenthede sensitief moet wees. ’n Verdere doelwit was om die rol te ondersoek van besigheidskole wat ’n dryfveer vir ekonomiese ontwikkeling is, om entrepreneurskap aan te moedig en maatskaplike uitdagings te hanteer.

Die kundige sprekers en paneellede het ook hulle ervarings en insigte gedeel oor die wyse waarop besigheidskole toekomstige sakeleiers met die nodige vaardighede en kennis kan toerus om in ’n snelveranderende omgewing sukses te behaal.

Uit die 84 besigheidskole het die NWU Besigheidskool en twee ander besigheidskole akkreditasie ontvang tydens die galadinee wat op Donderdag 18 Mei deur GIMPA se rektor by sy huis aangebied is. ’n Totaal van vyf besigheidskole is tans deur die AABS geakkrediteer. Die konferensie het op ’n hoë noot afgesluit met ’n paar aanbevelings vir die AABS om na moontlike geleenthede vir besigheidskole in Afrika te soek om saam te werk sodat die uitdagings op die Afrika-vasteland opgelos kan word.

Oor die AABS

’n Idee wat ontwikkel is deur individue met hulle oog op die toekoms van ’n organisasie wat besigheidskole in Afrika sou ondersteun, het ’n werklikheid geword toe die Association of African Business Schools (AABS) in Oktober 2005 formeel tot stand gekom het. Hierdie ondersteuning sou gegee word deur kapasiteitsbou, samewerking en gehalteverbeteringsprogramme vir dekane, direkteure en fakulteitslede. Die vereniging is in September 2007 as ’n nie-winsgewende organisasie geregistreer.

Die AABS het deur die jare verder ontwikkel, en in 2018 het dit ’n geskiedkundige reis aangepak met die bekendstelling van die AABS-akkreditasie, die heel eerste Afrika-akkreditasie vir besigheidskole in Afrika. Hierdie akkreditasie is gegrond op waardes wat met die Afrika-vasteland verband hou en dit beloof om besigheidskole in Afrika op die voorpunt van bestuursopleiding te plaas.

.....

Dr Lungile Ntsizwane het die akkreditasietoekenning namens die NWU Besigheidskool ontvang.

Submitted on Wed, 05/24/2023 - 15:48