Die sleutel tot ’n uitgebreide leerervaring met behulp van multimedia en aanlyn leerplatforms is om deelname onder Generasie Z-studente – mense wat tussen 1997 en die vroeë 2010’s gebore is – aan te moedig.
Dit is een van die bevindings van ’n navorsingspan van die Noordwes-Universiteit (NWU) nadat hulle die besonderhede van die ontwikkeling van studentebladsye op leerbestuurstelsels (LMS’e) ondersoek het.
Koos de Villiers, ’n dosent in kommunikasiestudies op die Vanderbijlparkkampus, sê dat die integrasie van meer van die vermoëns van die NWU se aanlyn leerplatform, eFundi, studente se ervaring kan verryk wanneer hulle die platform gebruik.
Die verskillende funksionaliteite van eFundi word gewoonlik as alleenstaande kenmerke besoek, wat nie ideaal is vir die studente van vandag wat multimedia verkies nie. Om hierdie kwessie te verbeter, het Koos probeer om video’s op te neem en op te laai en voor- en ná-klasaktiwiteite vir ’n derdejaarsmodule te verskaf.
“Hierdie benadering help studente grootliks om inhoud te kontekstualiseer, en dit laat meer tyd vir besprekings en praktiese oefeninge toe. Dit was egter nie vir almal die geval nie.”
Koos se gevolgtrekking is bevestig toe hy bogenoemde derdejaarsmodule as deel van kommunikasiestudies se gewysigde kurrikulum na die eerstejaarskursus geskuif het. Die webwerf vir eerstejaars op eFundi is meer as die vorige jaar se derdejaarsmodule besoek, ten spyte daarvan dat hulle albei soortgelyke inhoud en studentegetalle gehad het. Die enigste verandering aan die eerstejaarsmodule was die gebruik van verskillende uitlegtegnieke (baniere, ikone, ens.), die plasing van inligting en die multimedia-elemente wat gebruik is.
Koos het toe met dr Gordon Matthew, ’n navorsingstegnoloog in die Skool vir Tale, saamgewerk om te probeer vasstel wat sommige multimedia-omgewings op eFundi aantrekliker as ander maak, en watter impak multimediagebruik op onderrig en leer het.
Kyk na die multimedia-impak
Hulle eerste gepubliseerde artikel het vier tipes multimedia-elemente geïdentifiseer wat dikwels op ’n eFundi-lesbladsy aangetref word. Hierdie multimedia-elemente is gegrond op hoe iets lyk en voel (kleur en uitleg), die basiese strukturele elemente (teks, prente en oudio), dinamiese strukturele elemente (video’s en animasies), en interaktiewe elemente (hiperskakels en interaktiewe instrumente). Dit wil voorkom of meer dinamiese strukturele en interaktiewe elemente studente se aandag beter behou en dat daar dan meer werfbesoeke by een van die eFundi-webwerwe is.
Hoewel hierdie eerste artikel op die funksionaliteit van multimedia gefokus het, het dit nie aandag gegee aan die kognitiewe aspekte van die uitleg, navigasie en struktuur wat ook studente-interaksie en die getal besoeke kon verhinder het nie.
Vir hulle tweede artikel het die navorsers dus spesifieke scenario’s geïdentifiseer waar kognitiewe oorlading die waarskynlikste kan voorkom en wat leer en interaksie kan beïnvloed, asook moontlike maniere om die effek daarvan te verminder sodat leer bevorder kan word. Hulle studie het ses gevalle aangedui waar kognitiewe oorlading kan voorkom.
“Hierdie gevalle sluit die plasing van inligting, oortollige inligting, en die verdeling van die student se aandag oor vele bronne heen, of die skeiding van hierdie bronne deur ruimte of tyd in.”
Die twee navorsers het hierdie inligting in ag geneem en ook ’n kontrolelys opgestel om die ontwikkeling en ontwerp van multimedia-leerbestuurswerwe (LM-werwe) te evalueer en te fasiliteer. Hierdie kontrolelys behels die gebruik en funksie van multimedia-elemente, asook die kognitiewe implikasies van die gebruik van hierdie elemente van leer al dan nie, wanneer eFundi-werwe ontwerp word.
“Deur die funksionaliteit van multimedia-elemente sowel as hulle kognitiewe implikasies vir leer te kombineer, word ’n meer robuuste evalueringsinstrument vir LM-werwe geskep,” sê Koos.
Die navorsers het ook in 2022 met prof Nelda Mouton, ’n dosent by die NWU Besigheidskool, saamgewerk aan ’n loodsprojek om die kontrolelys te toets. Die resultaat was ’n referaat oor die ontwerp van multimedia-omgewings vir LM-werwe.
Hulle het vir hierdie studie hulle kontrolelys in ’n dosente-ervaringsvraelys omskep en gefokus op die dosent se denkproses toe hulle ’n leerervaring op ’n LM-bladsy geskep het. Die bevindings het aangedui dat hoewel dosente wel sekere onderrigontwerpbeginsels toegepas het, daar ’n gebrek aan samehang regoor vele LB-bladsye vir dieselfde module was.
“Dit kon die leerproses gefragmenteer het en kan potensieel die kognitiewe lading verhoog, of uiteindelik ’n kognitiewe oorlading en gebrek aan leer veroorsaak. Deur die kontrolelys in die ontwerpproses te implementeer, kan hierdie aspekte uitgeskakel word, en dosente kan gehelp word om die ontwerp van die leerervaring te evalueer. Op hierdie wyse kan hulle ook leer vir studente verbeter en die interaktiewe proses van LM-bladsye fasiliteer,” sê Koos.
Toekomstige navorsing
Koos sê hulle navorsing het die raamwerk vir die ontwikkeling van ’n basiese kontrolelys daargestel – een wat deur toekomstige navorsing verder gewysig kan word. “Die volgende fase van die projek sal wees om vas te stel of dosente by die gebruik van die kontrolelys sal baat om die gebruik van multimedia-elemente te evalueer en hulle LM-werwe saam te stel, en of die kontrolelys hulle begrip van onderrigontwerpidees sal verbeter.”
Dr Gordon Matthew en Koos de Villiers met hulle toekenning tydens die EdMedia-konferensie in 2019.