Die Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderrig (CHPE) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het gesogte erkenning van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ontvang nadat dit as ’n wenner in die WGO Afrika-netwerk van vennootinstellings (WHO AFRO Network of Partner Institutions (NPI)) vir gesondheidstelsels gekies is.
Die CHPE was in vennootskap met die Jomo Kenyatta Universiteit van Landbou en Tegnologie (JKUAT) in ’n geslaagde gesamentlike aansoek onder Pilaar 2: Bevorder Gesonde Arbeidsmagontwikkeling (Pillar 2: Enhancing Healthy Workforce Development). Die CHPE sal as deel van hierdie konsortium die leiding neem in die ontwikkeling en institusionalisering van gehaltestandaarde vir onderrig in gesondheidsberoepe regoor Afrika om konsekwentheid, uitnemendheid en relevansie in beide voordiens- en indiensopleiding te bevorder. JKUAT sal die operasionele navorsing lei om die beleid en praktyk vir die behoud van ’n arbeidsmag, ontplooiing en produktiwiteit daar te stel.
Die WGO het die gehalte van die voorlegging van die CHPE geloof en gesê: “Ons het ’n oorweldigende getal voorleggings van ’n hoë gehalte relatief tot die beskikbare befondsing gehad. Hierdie aanbeveling weerspieël die beduidende verdienstelikheid van die voorlegging en ons is bemoedig deur julle verbintenis om die gesondheidstelsels in die streek te verbeter en uit te bou.” Die WGO-komitee het ’n toekenning met ’n plafon van $37 500 aanbeveel, onderhewig aan sy noulettendheids- en kontraktuele klaringsprosesse.
Prof Christmal Christmals, die hoofondersoeker, het gesê: “Hierdie erkenning weerspieël die deurlopende bydrae van die CHPE tot die beleid en praktyk van gesondheidsberoepe-onderrig in die WGO se Afrika-streek.”
Victor Khanyile, van die Eenheid vir Mensehulpbronne vir Gesondheid (Human Resources for Health Unit) in die Nasionale Departement van Gesondheid, het sy opgewondenheid oor die uitkoms uitgespreek en die ondersteuning van die departement aan die CHPE bevestig namate die projek vorder.
Prof Jessica Pool, direkteur van die CHPE, sê: “Om deur die WGO gekies te word om die ontwikkeling van opleidingstandaarde vir gesondheidsberoepe-onderrig in die Afrika-streek te lei, is ’n mylpaal wat die gehalte en invloed van die werk van die CHPE in Suid-Afrika en verder beklemtoon. Dit beklemtoon ook die wêreldwye relevansie van die toekomstige mediese dokters wat deur die Desmond Tutu School of Medicine opgelei sal word.”
Sy sê dat die CHPE die voortgesette ondersteuning waardeer wat tydens die aansoekproses ontvang is. “Hierdie projek is die eerste fase in die posisionering van die sentrum om ’n WGO samewerkingsentrum vir gesondheidsberoepe-onderrig in Afrika te word,” het sy afgesluit.
Prof Jeanetta de Plessis, adjunkdekaan vir Navorsing en Innovasie by die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, het die span gelukgewens. “Baie geluk met hierdie geweldige groot prestasie. Julle kan baie trots wees. Ek wens julle alles van die beste toe met hierdie onderneming.” Om meer oor die CHPE, sy projekte en sleutelfokusareas te wete te kom, besoek https://health-sciences.nwu.ac.za/health-professions-education-chpe/chp….