CHHP help om ontwikkeling van geletterdheidsvaardighede te bevorder

Die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie: Care2Kids by die Noordwes-Universiteit (NWU) het onlangs by ’n geletterdheidsbevorderingsprogram vir jong leerders betrokke geraak. Die doel is om bewustheid te skep van die belangrikheid van geletterdheidsaktiwiteite vir gesinne sodat vaardighede in leer, selfregulering en uitvoerende funksies by kinders ontwikkel kan word.

Volgens Hanlie Degenaar, senior spraak-taal-terapeut en hoof van Care2Kids, is dit geen geheim dat akademiese prestasie deur ’n kind se leesbegrip en leesspoed bepaal word nie. “’n Leerder se vermoë om inligting in die hande te kry, dit te verstaan, afleidings vir uiteindelike probleemoplossing daaruit te maak en dit in ’n geskrewe formaat weer te gee, is noodsaaklik vir leer.   Hierdie vaardighede moet reeds in die graad 4-leerder se akademiese gereedskapkis wees. Bekommernis oor die uitwerking op leer-, lees- en geskrewetaalvaardighede van leerders van die onderwysbeperkings van die Covid-19-pandemie is ook ’n faktor wat oorweeg moet word.”

Die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) by die NWU het vergader met die Laerskool Saamtrek, wie se personeel oor die leesvaardighede van die leerders in die algemeen bekommerd is – veral in die lig van die feit dat daar aanduidings is dat 78% van graad 4-leerders in Suid-Afrika nie met begrip kan lees nie.

“Leesontwikkeling begin reeds voor die ouderdom van 12 maande en is ’n ontwikkelingsproses wat oor tyd heen met blootstelling aan stories en ander ontluikende leesaktiwiteite bevorder word. Hoewel verskeie goeie leesprogramme beskikbaar is, het die NWU se CHHP en die Laerskool Saamtrek die behoefte geïdentifiseer vir ’n ontwikkelingsmetode van ’n lees- en skryftaal wat die voorlopers van leessukses kan wees,” sê Degenaar.

’n Opwindende projek is van stapel gestuur wat alle graad RR- tot graad 3-leerders insluit. “Die doel van die leesprojek is om leesvaardighede so vroeg as moontlik deur stories en ervaringsleer optimaal te ontwikkel. Data sal ook ingesamel word om die uitkoms ten opsigte van die geletterdheidsontwikkeling te meet van leerders wat die program by die sentrum bywoon.”

Die projek het onlangs met ’n opleidingsgeleentheid vir onderwys- en sentrumpersoneel afgeskop. Die sukses daarvan sal oor die volgende paar maande gemoniteer word. Die volwassenes het die geleentheid gehad om deel te neem aan die ontluikendelees-aktiwiteite wat vir die leerders aangebied sal word. “Dit vorm deel van die CHHP se doelwit om geletterdheidsaktiwiteite in gesinne te bevorder. Dit was ’n kreatiewe en genotvolle storiedag vir almal wat betrokke was,” het Degenaar afgesluit.

........

Van links na regs: Marcu van Wyk (voorsitter van die beheerliggaam), Pieter Visagie (skoolhoof), Meliza Fourie (fasiliteerder en materiaalontwerper), Hanlie Degenaar (spraak-taal-terapeut) en Linique Hanekom (spraak-taal-terapeut en projekleier).

Submitted on Fri, 05/21/2021 - 11:51