The Cave – ondersteuning vir Suid-Afrikaanse maatskaplike werkers wat kinders beskerm

>

Dr Elmien Truter en prof Ansie Fouché is twee geregistreerde maatskaplike werkers en navorsers by die Noordwes-Universiteit (NWU) wat, deur hulle eie praktykervaring en navorsing, die droewe werklikheid geïdentifiseer het waarin maatskaplike werkers wat kinders beskerm hulle werk moet doen.


Hulle het nou ’n unieke webwerf (www.thecave.africa) bekend gestel met die hoop om ’n ondersteuningstelsel te verskaf vir alle maatskaplike werkers in Suid-Afrika wat met die beskerming van kinders werk.  

Dr Truter het verskeie jare ervaring as ’n maatskaplike werker wat in kinderbeskerming spesialiseer, en is steeds in ’n deeltydse praktyk waar sy gevalle van kindermishandeling en -verwaarlosing vir ’n NRO hanteer. Haar navorsingsbelangstelling het betrekking op kindermishandeling, die verbetering van kinderbeskermingstelsels, die ondersoek en hantering van die negatiewe toestande waaronder maatskaplike werkers moet werk om kinders te beskerm, en die begrip vir en versterking van hulle aanpasbaarheid.

Prof Fouché is ’n NNS-gegradeerde navorser en ’n programleier in die NWU se Optentia-navorsingsfokusarea. Haar navorsingsbelangstellings sluit die seksuele misbruik van kinders; forensiese maatskaplike werk; terapie voor ’n verhoor; aanpasbaarheid; posttraumatiese groei en sterktegebaseerde intervensies in. Voordat sy in 2009 die akademiese wêreld betree het, het sy vir 15 jaar as maatskaplike werker gewerk, waar sy in die forensiese evaluering van bewerings van die seksuele misbruik van kinders gespesialiseer het.

Dr Truter en prof Fouché se skokkende navorsingsbevindings het getoon dat maatskaplike werkers wat kinders beskerm moontlik meer hulp, ondersteuning en bystand nodig het om aanpasbaar te bly en hulle goeie werk om kinders te help, te kan volhou.

“Ons navorsing en ervaring het verskeie risikofaktore uitgewys wat aantoon dat hierdie spesifieke maatskaplike werkers waarskynlik die gevaar loop om uitbranding en meelewingsuitputting te ervaar, swak diens te begin lewer, en die beroep te verlaat,” sê dr Truter.  

“Ons beskou dit as ’n voorreg om ’n klein bydrae te kan lewer om hierdie probleem die hoof te bied deurdat ons hierdie webwerf geskep het (met gratis toegang) wat hopelik vir hulle ’n veilige ruimte bied – ’n ‘grot’ waar hulle kan leer en nadink voordat hulle na die ‘wildernis’ terugkeer waarin hulle praktiseer,” verduidelik prof Fouché.

Die slim metafoor van die webwerf as grot gee ’n mens die idee dat jy ’n ontdekkingsreis onderneem om kennis, motivering en bemoediging in hierdie uitdagende gebied van maatskaplike werk te vind. Die hoofdoelwit van die webwerf is om hierdie maatskaplike werkers te ondersteun en ’n gemeenskap en ’n bron van wysheid te skep. Wanneer die maatskaplike werkers dan weer na hulle werk in die “wildernis” terugkeer, sal hulle ’n bietjie sterker en wyser wees en kan voortgaan.  

Die webwerf bied inligting vanuit verskeie hoeke wat maatskaplike werkers wat kinders beskerm kan gebruik. Die webwerf bevat verskillende temas wat elke 8 tot 10 maande hernieu word. Die huidige temas op die webwerf is tekens van mishandeling by kinders (Signs of abuse in children) en die impak van mishandeling by kinders (Impact of abuse on children). Die inhoud van elke tema sal in drie verskillende afdelings beskikbaar wees: Precious Stones, Bonfire en Moonlight.

Precious Stones is vereenvoudigde opsommings van die mees onlangse en relevante navorsingsartikels wat maatskaplike werkers wat kinders beskerm moontlik in hulle werk, of as ’n verwysing in ’n hofverslag kan gebruik.

“Ons weet dat die meeste maatskaplike werkers wat kinders beskerm nie die tyd het om navorsingsartikels te lees of met die jongste navorsingspublikasies op hoogte te bly nie, dus bly ons op hoogte met hierdie artikels en lees dit namens hulle,” verduidelik prof Fouché.

Sy sê dat die doel van Precious Stones is om die wetenskap en die praktyk nader aan mekaar te bring deur maatskaplike werkers wat kinders beskerm te bemagtig op die gebiede waaroor die jongste navorsing gedoen word, wat nuttig kan wees om bewysgebaseerde besluite te neem.

Die tweede afdeling op die webwerf is Bonfire. “Bonfire is iets wat ek en Ansie geskep het omdat ons baie bewus is van die feit dat maatskaplike werkers wat kinders beskerm in Suid-Afrika met ’n verskeidenheid maatskaplike probleme in verskillende kontekste te doen kry,” verduidelik dr Truter.

“Maatskaplike werkers wat kinders beskerm, het baie dikwels nie die luukse van multi-professionele insette nie, wat dikwels nodig is om sekere probleme op te los. In Bonfire nooi ons hulle om ‘om die vuur te kom sit’ en te luister na die gesprekke wat ons met talle kundiges uit verskillende dissiplines het oor onderwerpe wat belangrik is vir die werk wat hulle op voetsoolvlak doen. Die idees, ervaring en wenke wat hierdie kundiges deel, kan die maatskaplike werkers op dié gebiede help waaroor hulle nie noodwendig kundiges is nie.”

Die Kinderwet, Wet 38 van 2004, is een van die vernaamste stukke wetgewing wat die werk van maatskaplike werkers wat kinders beskerm in Suid-Afrika rig. Maatskaplike werkers het dalk nie altyd tyd om hierdie lywige stuk wetgewing te bestudeer, of op hoogte te bly met wysigings en regulasies nie. Die derde deel van die webwerf verduidelik die Kinderwet (38/2005). Moonlight sal sommige van die gedeeltes van die Kinderwet (38/2005) verduidelik en die maatskaplike werkers help om beter te verstaan wat volgens die wet van hulle verwag word, en dit so toe te pas.

“Ons maak nie daarop aanspraak dat ons alles weet nie, maar ons wil probeer om maatskaplike werkers wat kinders beskerm te help om hulle bes te doen om die kinders in ons gemeenskappe te beskerm. Met die bekendstelling van The Cave gee ons erkenning aan die waarde van hulle werk en bring hulde aan hulle dat hulle in baie moeilike omstandighede die goeie stryd stry,” sê dr Truter en prof Fouché.

Soek hulle op Facebook en Twitter: @thecave_africa

ʼn Skermskoot van dr Truter en prof Fouché se unieke webwerf, www.thecave.africa

 

Submitted on Wed, 02/26/2020 - 10:06