CARST straal moontlikhede uit

Navorsing in stralingstegnologie is noodsaaklik vir gevorderde toepassings in die bedryf, om veiligheid te bevorder, doeltreffendheid te verbeter en nuwe tegnologiese innovasies en oplossings moontlik te maak, veral in ’n land soos Suid-Afrika.

Dit is waar die Sentrum vir Toegepaste Stralingswetenskap en -tegnologie (CARST) by die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n rol het om te speel. CARST is ’n baanbreker op die gebied van navorsing en opleiding in toegepaste stralingswetenskap. Die sentrum het ’n mandaat om vir die kernbedryf in Suid-Afrika navorsing te doen en kapasiteit te bou. En vanaf 5 tot 6 Februarie het – onder andere – kernkundiges in die akademiese, privaat en openbare sektor by The Roots in Potchefstroom vergader om aan ’n CARST-strategiewerkswinkel vir belanghebbers deel te neem.

Teenwoordiges het ’n afvaardiging van die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (Necsa), Eskom, die Departement van Minerale Hulpbronne, iTehamba Labs, NuMeRI, die Nasionale Kernreguleerder, die Nasionale Radioaktiewe Afval Wegdoeningsinstituut, en nog meer ingesluit.

Volgens prof David Modise, uitvoerende dekaan van die NWU se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, is die doel van die strategiewerkswinkel om vas te stel of “CARST op die regte koers is”. Hy het gesê: “Ons moet evalueer of CARST nasionaal en internasionaal aan wêreldwye opdragte voldoen.”

“Dit is baie ongewoon dat so ’n kritieke massa akademiese en bedryfsrolspelers onder een dak bymekaarkom,” het prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, in sy openingstoespraak gesê.

Hy het ook die NWU se verbintenis beklemtoon om te help om die land se energiebehoeftes te hanteer: “Vanuit ’n kernperspektief is dit ons doelwit by die universiteit om relevant en goed geplaas te wees om die bedryf te kan dien.”

Prof Jan Rijn Zeevaart, ’n buitengewone professor by die NWU se Prekliniese Geneesmiddelontwikkelingsplatform (PCDDP) en Necsa se algemene navorsingsbestuurder vir Toegepaste Straling, het ’n oorsig van die groter kernprentjie gegee deur die huidige tendense in die bedryf uit te lig. Hy het ook verduidelik hoe verdere navorsing in die toepassing van kernenergie kan help om die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) te bereik, en hy het verskeie ander bedryfstoepassings vir stralingstegnologie gewys.

Prof Helen Drummond, adjunkdekaan vir Onderrig en Leer by die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, het beklemtoon dat een van die doelwitte van die strategiesessie was om verdere geleenthede te identifiseer vir CARST om die bedryf te help, en vir die bedryf om CARST te help. Dit sluit die ontwikkeling van strategieë in om gekwalifiseerde personeel te lok en te behou, om bedryfsvennote aan te moedig om studieleiers vir MSc- en PhD-studente te wees, om te verseker dat kursuswerkmodules met die jongste tegnologieë en ontwikkelings bygewerk is, en nog meer.

Die strategiesessie het aanbiedings deur die onderskeie belanghebbers, ’n omvattende gapingsontleding en die formulering van ’n aksieplan ingesluit.

Dit is deur evalueringsinisiatiewe soos hierdie dat die NWU en CARST leiers op hierdie gebied bly.

...

Prof Jan Rijn Zeevaart, buitengewone professor by die NWU se Prekliniese Geneesmiddelontwikkelingsplatform (PCDDP) en Necsa se algemene navorsingsbestuurder vir Toegepaste Straling

...

Saam stap ons na ’n beter toekoms.

Submitted on Tue, 02/06/2024 - 12:03