Studente se swak prestasie en belangstelling in die gebiede van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM) – veral onder vroue wat onderverteenwoordig is in die wetenskaplike gemeenskap – is in talle lande ’n groot bekommernis. Dit is selfs erger wanneer ’n mens kyk na die 2020 UNESCO-verslag, wat toon dat vroue slegs 28% van die gegradueerde ingenieurstudente, 40% van die gegradueerdes in rekenaarwetenskap en 33% van die navorsers regoor die wêreld uitmaak.
Die vraag “Waarom verloor laerskoolleerders, veral meisies, wat met ’n aanleg vir wetenskap hulle skoolloopbaan begin, aan die einde van hulle laer- of hoërskoolloopbaan belangstelling in wetenskap, of waarom behou hulle nie hierdie positiewe dinamiek nadat hulle die skool verlaat nie?” het dr Paul Iwuanyanwu aangespoor om ’n studie te onderneem. Hy is ’n wetenskapdosent in die Skool vir Wiskunde, Wetenskap- en Tegnologieonderwys op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU).
Hierdie en ander bekommernisse het daartoe gelei dat dr Iwuanyanwu 356 laerskoolleerders bestudeer het om hulle ingesteldheid teenoor skoolwetenskap en moontlike loopbane op die STEM-gebiede te verstaan. Hy het gevind dat in klaskamers waar wetenskaponderrig ontwerp is om die ondersoekende proses aan te moedig, seuns en meisies – ongeag die tipe skool – dieselfde positiewe ingesteldhede teenoor wetenskap het en dat hulle dit geniet. Hulle toon selfvertroue en daar is toekomstige betrokkenheid by wetenskap.
Dr Iwuanyanwu het meisies in enkelgeslagskole met seuns in dubbelgeslagskole, en seuns in enkelgeslagskole met meisies in dubbelgeslagskole vergelyk en gevind dat meisies in enkelgeslagskole ’n positiewer ingesteldheid teenoor wetenskap het en vol selfvertroue is oor hulle toekomstige deelname aan STEM-loopbane vergeleke met hulle eweknieë in ander skole.
Die studie het ander faktore in ag geneem, soos die onderwysers se ingesteldheid teenoor die leerders en die vakinhoud, die leerders se agtergrond, sosio-ekonomiese faktore, die skool se hulpbronne, klimaat in die klaskamer en die debat wat wyd ondersteun word deur voorstanders van enkelgeslag- en dubbelgeslag-leeromgewings, en bevind dat sekere ingesteldhede van leerders primêr deur skool- en klaskamerinteraksies beïnvloed word, aangesien van die onderwysers wat waargeneem is, nie soos verwag is die leerders by die wetenskaponderrig betrek het nie.
Om dus ’n positiewe ingesteldheid van leerders teenoor wetenskap te bevorder, vereis dat onderrigpraktyke, die ingesteldheid van onderwysers en die skoolomgewing in die vroeë stadium van wetenskaponderrig aangepas moet word. Trouens, seuns en meisies word nuuskierig en belangstellend gebore, en daardie eienskappe hou verband met wetenskap – wat die wêreld om hulle is. Hulle dink van ’n jong ouderdom af na oor natuurverskynsels wat hulle teëkom, en vra baie vrae daaroor. Dit is “beoefening van wetenskap” in aksie en dui daarop dat seuns en meisies ingebore wetenskaplike eienskappe het en dat hulle op enige vakgebied goed kan vaar indien hulle daarin belangstel.
Vir meer inligting oor sy navorsing, stuur ’n e-pos aan paul.iwuanyanwu@nwu.ac.za, of om sy artikel te lees, besoek https://doi.org/10.1111/ssm.12541.
Dr Paul Iwuanyanwu.