Deur inheemse woude met boomplantasies te vervang, word die grond op ’n mikrobiese vlak benadeel deur ’n impak op die vrugbaarheid van die grond en die gesondheid van die planeet te hê.
Dit is een van die gevolgtrekkings waartoe die Noordwes-Universiteit (NWU)-akademikus prof Olubukola Oluranti Babalola gekom het. Sy het onlangs saam met dr Adenike Eunice Amoo baanbrekernavorsing uitgevoer om die impak van die verandering in grondgebruik op bakteriële gemeenskappe in die grond en die eienskappe daarvan te ondersoek.
“Mikrobiese gemeenskappe in die grond is ’n belangrike deel van ekostelsels en het die vermoë om die dienste van die ekostelsel te verbeter. Verskeie aspekte van die ekologie van bakteriële gemeenskappe in die grond van woude is egter steeds onbekend,” sê prof Babalola.
Bewyse uit hulle studie met die titel “Impact of land use on bacterial diversity and community structure in temperate pine and indigenous forest soils” dui aan dat mikrobiese gemeenskappe en multifunksionaliteit in die ekostelsels van woude verbind is, en dat grondgebruikverandering ’n uitwerking op die struktuur van grondmikrobes en so ook hul funksionering het.
Die studie het hoëdeurset-sekwensiëring gebruik om die diversiteit van die bakterieë, en kanoniese ooreenstemmingsanalise om die verwantskap tussen die bakteriële gemeenskappe en die omgewingsveranderlikes te bepaal.
Die mens se grondgebruik is te blameer
Prof Babalola sê dat die navorsing aandui dat die enormiteit van die grondgebruik van die mens as gevolg van die immergroeiende bevolkings toegeneem het.
“Antropogeniese versteurings lei tot gronderosie, verlies van grondvrugbaarheid en die gebruik van fossielbrandstof, wat dan weer tot klimaatsverandering lei.
“Wêreldwyd is ongeveer 40% van alle grond omskep in stelsels wat bestuur word. Woud-ekostelsels het ’n ryke hoeveelheid bome, en hierdie eienskap onderskei dit van ander terrestriële biome. Hulle dien as koolstofputte en versag die klimaatsverandering. As gevolg van die toename in die vraag na hout, is inheemse woude in boomplantasies omskep,” verduidelik sy.
In ’n inheemse woud is mikrobes vir ongeveer 90% van die grondprosesse verantwoordelik. Die omskakeling van inheemse woude na boomplantasies het egter ’n impak op die struktuur en funksie van grondmikrobes.
“Grondmikrobes speel ’n noodsaaklike rol in die produktiwiteit van woude, en die verlies van diversiteit in die grond het funksionele gevolge, aangesien mikroörganismes fasiliteerders van die biogeochemiese siklusse is. Die Aarde se biodiversiteitsvlak is besig om te verbrokkel, wat as gevolg van die bydrae van biodiversiteit-tot-ekostelsel-funksionering ’n ernstige wêreldwye uitwerking het,” waarsku sy.
Volgens prof Babalola het die navorsing getoon dat daar ’n hoër bakteriële rykheid en diversiteit in inheemse woude is, wat aandui dat grondgebruikverandering die bakteriële gemeenskappe in die grond in ’n groot mate beïnvloed.
“’n Afname in mikrobiese diversiteit sal veelvuldige ekostelselfunksies laat afneem en ’n negatiewe impak hê op die voorsiening van ekostelseldienste soos grondvrugbaarheid, die regulering van die klimaat en die produksie van voedsel deur terrestriële ekostelsels. Indien moontlik behoort die vervanging van inheemse woude met boomplantasies heeltemal vermy te word. Dit is noodsaaklik vir die volhoubaarheid van ekostelsels,” sluit sy af.
Vir verdere besonderhede, kyk na Amoo, AE en Babalola, OO. (2019). Impact of land use on bacterial diversity and community structure in temperate pine and indigenous forest soils. Diversity 11:217 (https://www.mdpi.com/1424-2818/11/11/217).
Prof Olubukola Oluranti Babalola.