Blaarskroei by mielies is ’n bedreiging vir voedselsekerheid, en hoewel dit komplekse oorsake het, kan dit doeltreffend bestuur word. Dit is een van die bevindings van ’n groep navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat hierdie plantsiekte by die universiteit se Molelwane-plaas in Mahikeng ondersoek.
Hulle navorsing toon dat die siekte talle beheermaatreëls fnuik, aangesien dit deur veelvuldige organismes veroorsaak word, wat in die meeste gevalle met mekaar reageer om die blaarskroeisiekte te veroorsaak. Sekere metodes – veral die gebruik van bismutsulfied-nanodeeltjies – lyk egter of dit meer doeltreffend is om die siekte te bestuur.
Die navorsingspan bestaan uit die hoofondersoeker, prof Olubukola Oluranti Babalola, dr Akinlolu Akanmu, ’n postdoktorale wetenskaplike, en Masego Seleke, ’n honneursgraadstudent van die Laboratorium van die Mikrobiese Biotegnologie-groep in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe.
In haar kommentaar oor hulle bevindings oor die doeltreffendheid van bismutsulfied-nanodeeltjies in die bestuur van die siekte sê prof Babalola dat veldproewe steeds aan die gang is. Indien dit suksesvol is, kan die studie vir die breëspektrumbeheer van blaarskroeisiektes by mielies aanbeveel word.
Mielies, ’n graangewas, het ’n belangrike dieetwaarde in Suid-Afrika, sê sy.
“Ten spyte van bestuurspraktyke om voldoende verbouing te verseker, is sommige siektes, soos blaarskroei by mielies, hardnekkig in die gebiede waar mielies verbou word, en veroorsaak ’n afname in die gehalte en hoeveelheid van die oes. Die voorkoms van hierdie siekte in mielielande op die universiteit se plaas, Molelwane, het die navorsers aangespoor om die siekte te ondersoek.”
Die navorsers se ondersoek behels dat hulle na die rede soek waarom hierdie rampspoedige siektes voortduur ten spyte daarvan dat daar ’n bestuursprogram in plek is. Hulle ondersoeke sluit in dat die variasies in die mikrobiese diversiteite tussen siek en gesonde mielieplante ondersoek word, met ’n fokus op die blaarskroeisiekte by mielies.
Met die ondersoek is daar met behulp van morfologiese asook molekulêre protokolle ontdek dat die siekte veroorsaak word deur verskillende swamgenusse, wat wissel van verskillende spesies van Diothidiomycetes, Epicoccum, Fusarium, Tiasrosporella, Eutiasporella, Bipolaris, Alternaria, Nigrospora en Phoma. “Dit bevestig dat veelvuldige organismes die siekte veroorsaak,” sê prof Babalola.
Die skadelikste van hierdie organismes is Bipolaris zeicola, Phoma herbarum, Epicoccun nigrum, Alternaria alternata en Fusarium brachygibbosum. Hulle is aan in vitro-kontrole onderwerp met die gebruik van nanodeeltjies van bismutsulfied en grafitiese koolstofnitriede, wat deur Timothy O Ajiboye, ’n nagraadse student van die NWU se vakgroep Chemie, gesintetiseer is.
’n Nanodeeltjie is ’n baie klein deeltjie waarvan die grootte van 1 tot 100 nanometer wissel. Dit word spesiaal voorberei van die aktiewe bestanddeel van die bronmateriaal wat gebruik word om die doeltreffendheid daarvan te verbeter. Die gebruik van nanodeeltjies word as noodsaaklik beskou, aangesien die siekte regoor verskeie bestuurspraktyke – van kulturele tot chemiese beheer – steeds voorkom.
Prof Olubukola Oluranti Babalola