Bewustheid en kennis die wapens teen mensehandel

Mensehandel is ’n ernstige misdaad en ’n ernstige skending van menseregte. Duisende mans, vroue en kinders is elke jaar die slagoffers van mensehandelaars – in hulle eie lande asook in die buiteland. Ongelukkig is mensehandel ook in Suid-Afrika ’n werklikheid.

Slagoffers van handel kan enige ouderdom, geslag, ras of sosiale stand hê en statistiek dui aan dat dit die vinnigste-groeiende wêreldwye bedryf is – met ’n verbysterende U$D150 miljard omset per jaar. Tydens ’n onlangse veldtog oor bewustheid ten opsigte van mensehandel wat deur die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vanderbijlparkkampus gereël is, het studente die geleentheid gehad om by die VALKE (’n onafhanklike direktoraat binne die Suid-Afrikaanse polisiemag wat verantwoordelik is vir die stryd teen, ondersoek en voorkoming van nasionale prioriteitsmisdade) en verteenwoordigers van die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling meer oor hierdie maatskaplike euwel te leer.

Die bewustheidsveldtog het die vorm aangeneem van ’n tweeledige gebeurtenis met ’n aksie wat in die middag by die studentesentrum gehou is, en ’n inligtingsessie wat deur die loop van die aand by die verskillende kampuskoshuise gehou is. Studente van die verskillende koshuise was tydens die aksie met dansroetines en toneelstukke op die verhoog en het medestudente oor die gevare van mensehandel vermaak en ingelig.

Om meer oor hierdie gebeurtenis te lees, besoek die Student24/7 blog: https://student247blog.wordpress.com/2017/03/10/stop-trafficking-of-persons-csrc-awareness-campaign/

 

Submitted on Wed, 03/29/2017 - 10:16