Beter ondersteuning vir psigiatriese verpleegkundiges beteken beter geestesgesondheidsorg

Verbeterings in die ondersteuningstelsels vir psigiatriese verpleegkundiges in die Noordwesprovinsie sal ’n direkte impak op die gehalte van die sorg vir kinders met geestesgesondheidsprobleme hê.

Dit is een van die bevindings van ’n onlangse studie wat deur dr Rorisang Machailo, ’n akademikus by die Skool vir Verpleegkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), gelei is. Sy het gefokus op die ontwikkeling van strategieë om die gapings te oorbrug in hulpbronne, en in die opleiding en ondersteuning van psigiatriese verpleegkundiges wat vir kinders met geestesgesondheidskwessies in die provinsie moet sorg.

“Psigiatriese verpleegkundiges speel ’n kritieke rol in die verskaffing van geestesgesondheidsdienste aan kinders,” sê dr Machailo. “Ons studie beklemtoon die belangrikheid van ondersteuning aan hierdie verpleegkundiges, aangesien hulle noodsaaklik is om omvattende en kindgesentreerde geestesgesondheidsorg te verseker.” 

Die navorsing, wat in twee fases uitgevoer is, het die huidige stand van praktyke in psigiatriese verpleegkunde ondersoek het en strategieë ontwikkel om verpleegkundiges op hierdie gebied te bemagtig.

Die eerste fase het behels dat ’n stelselmatige hersiening van die bestaande praktyke en ’n waarderende ondersoek gedoen is om sterk punte, asook areas vir die verbetering van geestesgesondheidsverpleging van kinders, te identifiseer. Die tweede fase het gefokus op die ontwikkeling van ’n konseptuele raamwerk en uitvoerbare strategieë om aandag te gee aan die behoeftes van psigiatriese verpleegkundiges wat vir kinders moet sorg.

“Ons bevindings het betekenisvolle gapings in hulpbronne – op materiële gebied sowel as by mense – uitgewys,” verduidelik sy. “Daar is ’n behoefte aan kurrikulumhervorming, billike werksomstandighede en kultureel bekwame praktyke om die sorg wat aan kinders gegee word, te verbeter.”  

Die studie beklemtoon die belangrikheid van die ontwikkeling van gerigte ondersteuningsprogramme wat tegniese hulp en opleidingsgeleenthede aan psigiatriese verpleegkundiges verskaf.

“Die bemagtiging van verpleegkundiges deur opvoeding en hulpbronne sal hulle nie net help om hulle werkslading beter te bestuur nie, maar ook verseker dat hulle aan die unieke geestesgesondheidsbehoeftes van kinders sal kan voldoen,” sê dr Machailo.

Die studie bepleit ’n samehangende benadering om psigiatriese verpleegkundiges te bemagtig deur hulle kennisbasis, asook die werkstoestande in psigiatriese verpleging van kinders, te verbeter.

Rorisang

Dr Rorisang Machailo

“Hierdie strategieë sal vir beide die verpleegkundiges en die kinders vir wie hulle sorg voordelig wees en tot beter geestesgesondheidsuitkomste in die Noordwesprovinsie lei.”

Submitted on Wed, 10/09/2024 - 08:38