Die beter-as-verwagte groei van 0,6% in die bruto binnelandse produk (BBP) in die tweede kwartaal van 2023 is welkome nuus, aangesien dit sy styging vir ’n tweede agtereenvolgende tydperk verhoog het.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê dit demonstreer ’n noemenswaardige graad van veerkragtigheid in die ekonomie. Dit was hoofsaaklik die gevolg van matiger Eskom-kragonderbrekings in Junie vergeleke met April en Mei, saam met ander versagtende faktore wat gehelp het om beter groeisyfers te genereer.
“Daar is nietemin steeds ’n hoë graad ongestadigdheid in die groeidinamika. Dit blyk duidelik uit die groot verskille in groeivoorspellings vir die tweede kwartaal van 2023, wat van 0,1% tot 0,7% wissel.”
Volgens prof Parsons is dit ’n weerspieëling van nie net die probleme om die grootste verskaffingstruikelblokke in die ekonomie te kwantifiseer nie, maar ook dat dit ’n beduidende bron van onsekerheid in groeiverwagtings is.
“Die balans van risiko’s tot groeivooruitsigte bly vir eers aan die styg. Beurtkrag is reeds vroeg in September terug op Fase 6, wat die mate illustreer waartoe Eskom-kragonderbrekings Suid-Afrika se groeiprestasie gyselaar hou. Ander ekonomiese data – soos kleinhandelsverkope en die vraag na krediet – bly voorts swak as gevolg van hoër leenkoste en die waardevermindering van die rand, wat besteebare inkomste verminder.”
Hy sê die ekonomie sukkel steeds om voldoende momentum te verkry om ’n hoër koers van arbeidryke groei in stand te hou.
“’n Groeivooruitsig van minder as 1,0% vir 2023 as geheel – met geen beter koerse wat in 2024 verwag word nie – het onmiddellike negatiewe implikasies vir fiskale volhoubaarheid, aangesien belastinginkomste minder is as die projeksies en staatsbesteding die beplande begrotingsvlakke oorskry,” sluit prof Parsons af.