Besoek lei tot samewerking oor voeding in Lesotho

Die Afrika-voedingsleierskapprogram (African Nutrition Leadership Programme, ANLP) van die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan voort om doelgerigte leierskapskapasiteit op die Afrika-vasteland te bou.

Verteenwoordigers van die ANLP het op 15 en 16 Junie met die Lesotho Nutrition-Sensitive Platform (LSNP) in Maseru geskakel. Dit volg op ’n besoek oor leierskapskapasiteitsbou aan Nigerië vroeër hierdie jaar (om meer te lees, besoek: Impact of nutrition project continues through leadership development | news.nwu.ac.za).
Dr Christine Taljaard-Krugell en prof Johann Jerling is genooi om die kwartaallikse vergadering van die LSNP by te woon om te bepaal of doelgerigte leierskapskapasiteitsbou benodig word.

Prof Jerling sê hulle het oor verdere samewerking tussen die NWU en die LSNP ooreengekom.  “Ons sal daarop konsentreer om leiding te neem om deur die LSNP voeding in Lesotho te verander, met die fokus wat op bepaalde spanne val wat voedingsensitiewe intervensies sal implementeer wat deur Lesotho se beleid oor voedsel en voeding gerig sal word.”

Meer oor die Lesotho Nutrition-Sensitive Platform

Volgens dr Taljaard-Krugell dien die LSNP, wat deur Lesotho se Ministerie van Landbou en Voedselsekerheid deur middel van die Voedingsdirektoraat gestig is, as die verteenwoordigende liggaam van sleutelbelanghebbers.  “Dit is van besondere belang, aangesien dit ook die belangrikheid van ’n politieke wil demonstreer om voedingsprobleme op te los – in Suid-Afrika het ons nog baie om daaraan te doen.”

“Die doelwit van die platform is om tegniese advies, toesighouding en ondersteuning aan die ministerie te verleen in verband met strategieë, planne en die implementering van programme wat met voeding verband hou. Lede van die LSNP sluit verteenwoordigers van verskeie ministeries, die Nasionale Universiteit van Lesotho en nieregeringsorganisasies soos die Wêreldvoedselprogram, Katolieke noodlenigingsdienste, Verenigde Nasies Voeding (United Nations Nutrition), en die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies in.”

Dr Taljaard-Krugell sê Lesotho het die dubbele las van wanvoeding, met 34,6% van kinders onder vyf jaar wat geraak word, en 30,1% van volwasse vroue en 5,9% van volwasse mans wat met vetsug leef. “Voedingsensitiewe programme is noodsaaklik om hierdie uitdagings die hoof te bied deur die veelvlakkige aard van wanvoeding te erken en deur voedingsverwante intervensies regoor sektore soos landbou, gesondheid, onderwys en maatskaplike beskerming te integreer. Die doel van hierdie integrasie is om voedselsekerheid te bevorder, ’n dieetverskeidenheid aan te moedig en oorkoepelende gesondheidsuitkomste te verbeter.”

Prof Jerling het bygevoeg: “Om langtermynverhoudings regoor die vasteland te bou, is ’n belegging en ’n kritieke bemagtiger vir die implementering van kundigheid.  Een lid van die platform is ’n vorige PhD-student van die Sentrum van Uitnemendheid vir Voeding (CEN) by die NWU en ’n deelnemer aan die eerste ANLP wat in 2002 aangebied is.  Nog ’n lid het ’n ander leierskapsontwikkelingskursus bygewoon wat ons in 2018 aangebied het, en daar was nog een wat die ANLP in 2022 bygewoon het.  Hierdie verhoudings maak talle deure oop en maak vordering moontlik, aangesien ons reeds  vertroue met belangrike lede van die LSNP opgebou het.”

...

Verteenwoordigers van die NWU se Afrika-voedingsleierskapprogram en die Lesotho Nutrition-Sensitive Platform het in Maseru byeengekom om verdere samewerking in leierskapskapasiteitsbou te bevorder om die implementering van voedingsprogramme in Lesotho te verbeter.

Submitted on Wed, 06/21/2023 - 14:14