President Cyril Ramaphosa se omvattende agenda in die staatsrede (SONA), wat die tasbare verbintenis bevestig van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) tot vinniger en beter arbeidsryke groei, is positief.
In sy kommentaar op die staatsrede, wat op 7 Februarie gelewer is, sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die NWU Besigheidskool, dat Suid-Afrika se ekonomie inderdaad uiteindelik in staat is tot selfs baie hoër ekonomiese groei as 3% indien die regte keuses gemaak word.
“Die huidige stadige en oneweredige ekonomiese herstel illustreer nietemin die mate waartoe versnelde strukturele hervorming dringend nodig is indien Suid-Afrika teen 2027 selfs net ’n bruto binnelandse produk (BBP) van 3% wil bereik.”
Prof Parsons sê om die sosio-ekonomiese mikpunte te bereik wat in die SONA uitgestippel word, hang grootliks af van die versnelde implementering van groeivriendelike beleide en projekte, beter bestuur en minder korrupsie op verskillende vlakke, en die versekering dat die land se kwesbare staatsfinansies behoorlik gestabiliseer word.
“Die SONA erken dat dit inderdaad ook noodsaaklik is om die deelname van die sakesektor op ’n selfs groter skaal te benut om baie groter arbeidsryke groei te bereik. Strenger tydlyne sal help om die lewering van die baie hoër infrastruktuurbesteding wat in die staatsrede beklemtoon word, te bespoedig.”
Prof Parsons sê op die wêreldfront erken die SONA die mate waartoe 2025 ’n tuimeltreinjaar van verandering vir talle ekonomieë gaan wees, en so ook vir Suid-Afrika. As ’n klein oop ekonomie moet Suid-Afrika sy kaarte slim speel, en in die besonder sy ekonomie so “Trump-bestand” as moontlik maak.
“Suid-Afrika se ekonomie moet globaal mededingend bly om beide die risiko’s en geleenthede van ’n verskuiwende geopolitieke scenario te hanteer. Die SONA beklemtoon die mate waartoe Suid-Afrika se aanbieding van die G20 hierdie jaar ’n belangrike geleentheid bied om die Suid-Afrikaanse ekonomie “ten toon te stel”.
Prof Parsons verduidelik dat die SONA dus ten doel het om die vordering wat die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) tot dusver gemaak het, te bevorder.
“Die algehele uitdaging vir die RNE-beleid is nou om op die bestaande beter korttermyn-sakevertroue voort te bou en dit in langtermyn-beleggersvertroue te omskep. Dit is ’n hoër vlak van belegging wat groter groei moontlik maak. ’n Duidelike en voorspelbare beleidsomgewing en ’n hoë mate van beleidsekerheid van nou af sal besighede aanmoedig om ’n langtermynperspektief op groei en ontwikkeling in Suid-Afrika te hê,” sluit hy af.