’n Sentrum vir Diversiteit en Identiteit word tans by die Noordwes-Universiteit (NWU) gestig, wat beteken dat akademiese kanale vir vroue en mense met gestremdhede geskep word en moeite gedoen word om ekonomiese gelykheid en insluiting te verseker.
Hierdie verwikkelinge is beklemtoon tydens die belanghebberkonsultasiesessie van die G20-werkgroep vir die bemagtiging van vroue (G20 Empowerment of Women Working Group) vir die Dr Kenneth Kaunda Distriksmunisipaliteit, wat op 24 April op die Potchefstroomkampus plaasgevind het.
Die sessie het gefokus op die ekonomiese bemagtiging van vroue vir inklusiewe ekonomiese groei onder die tema “Solidarity – A connected world, built on a people-centred and inclusive future”.
Ntsikie Kote-Nkomo, hoofdirekteur vir Strategie en Internasionalisasie in die kantoor van die NWU se visekanselier, prof Bismark Tyobeka, het namens hom gesê dat die Sentrum vir Diversiteit en Identiteit, wat die NWU tans stig, ’n multidissiplinêre spilpunt gaan wees wat aan navorsing, leierskapsontwikkeling en die innovering van beleid gewy sal word.
“Die NWU is ook verbind tot die bou van akademiese kanale vir vroue en mense met gestremdhede om toegang en sukses regoor alle dissiplines te verseker.” Ntsikie sê dat deur platforms soos die NWU se Entrepreneurskapskern, die bhive-sentrum en die NWU Besigheidskool, die universiteit inklusiewe innovasie en entrepreneurskap ondersteun, veral in gemeenskappe met min hulpbronne, en spesifiek op vroue as sake-eienaars fokus.
“Ons staan gereed om die implementering van die Nasionale Strategieplan oor Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord (Gender-Based Violence and Femicide, GBVF) deur bewysgebaseerde intervensies en samewerking met vennote uit alle sfere van die samelewing te implementeer.”
Genderongelykhede is onrusbarend
In die 21ste eeu is dit onrusbarend dat genderongelykhede nog steeds regoor wêreldwye finansiële stelsels, beleidsruimtes en maatskaplike instellings bestaan, sê Ntsikie. Dit is selfs meer onrusbarend wanneer hierdie ongelykhede ook met gestremdhede, ras, geografie en armoede saamhang.
Sy het daarop gewys dat Doelwit 5 van die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) die bereiking van gendergelykheid en die bemagtiging van alle vroue en meisies noodsaak. Die VN se Ekonomiese Kommissie vir Afrika (UNECA, 2020) dui egter aan dat Afrika se gemiddelde telling op die geslagsgelykheidsindeks ’n
blote 0,48 is, wat daarop dui dat geslagsgelykheid op kritieke gebiede soos politieke verteenwoordiging, onderwys, gesondheid en arbeidsmagdeelname steeds nie ’n werklikheid is nie.
“In ons plattelandse provinsie van Noordwes, waar talle van ons in hierdie vertrek se wortels lê, is hierdie kwessies ’n geleefde werklikheid,” het Ntsikie gesê. Die 2024-strategie vir jong vroue en mense met gestremdhede (2024 Women Youth and Persons with Disabilities (WYPD) Strategy) toon dat vroue met gestremdhede ’n minder as 50%-kans het om ’n tersiêre opvoeding te ontvang.”
Die konsultasiesessie, wat goed bygewoon is, het verskillende belanghebbers van die G20-sessie vir die bemagtiging van vroue, verteenwoordigers van die plaaslike, provinsiale en nasionale regering, gemeenskapslede, en personeel en studente van die NWU byeengebring.
Onder die gaste was Oageng Molapisi, lid van die uitvoerende raad (LUR) vir Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake; Madoda Sambatha, LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling; raadslid Nikiwe Num, uitvoerende burgemeester van die Dr Kenneth Kaunda Distriksmunisipaliteit; raadslid Gaba Thithiba Ka Qhele, uitvoerende burgemeester van die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, en advokaat Mikateko Maluleke, direkteur-generaal van die Departement vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede.

Clement Manoko, uitvoerende direkteur vir Korporatiewe Verhoudinge en Bemarking, het die konsultasiesessie geopen.

Ntsikie Kote-Nkomo, hoofdirekteur vir Strategie en Internasionalisering aan die NWU, sê dit is belangrik om te weet dat solidariteit nie net simbolies is nie; dit is ’n doelbewuste aksie, dapper beleidshervorming en gedeelde leierskap.