AUTHeR se webinare pas die teorie vir navorsers, studieleiers en studente in die praktyk toe

Wat help teorie as dit nie prakties toegepas word nie? Dit is veral waar vir diegene wat in die gesondheidswetenskappe studeer of werk. Die Afrika-eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing (AUTHeR) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) bied regdeur die jaar verskeie informele werkswinkels en webinare aan en konsentreer op kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsingsmetodologieë wat op vaardigheidsontwikkeling en optimale ondersteuning vir navorsers, studieleiers en studente fokus.  

Die naderende kwantitatiewe webinaarreeks word deur prof Cristian Ricci, ’n internasionaal-gekwalifiseerde biostatistikus, aangebied. Prof Ricci sê die doel van die aanvanklike vier webinare is om kennis oor teorie en tegniese vaardighede te deel wat almal op die gebied van gesondheidswetenskappe nodig het, veral ten opsigte van navorsing oor menslike gesondheid. Hierdie vier webinare sal op ’n latere stadium deur nog webinare gevolg word.

Die aanvanklike vier webinare handel oor epidemiologie vir openbare gesondheid (23 tot 25 Augustus), die aanleer van R (sagteware-omgewing/programmeertaal) van die begin af (25 Oktober tot 22 November), berekening van sterkte en die optimalisering van steekproefgroottes (6 tot 7 September) en sistematiese hersienings en meta-analise (17 tot 18 Oktober). 

Prof Ricci sê die webinare sal nie net die teorie van epidemiologie en biostatistiek verduidelik nie, maar dit ook prakties toepas deur te toon hoe studie-ontwerp of statistiese ontleding in die werklike wêreld uitgevoer word, beginnende by die gebruik van sagteware en programmering. “Daar is ten minste twee hoofvaardighede wat ons wil verbeter: studie-ontwerp, beplanning en die uitvoering daarvan in epidemiologie (navorsing wat op die menslike bevolking se gesondheid gerig word), en biostatistiek, met ’n fokus op die praktyk van statistiese ontleding en sagtewareprogramme.”

Prof Petra Bester, direkteur van AUTHeR, glo dat veral nagraadse studente, studieleiers en dosente by die seminare baat sal vind: “Dit is kort, kragtige seminare en besprekings wat studente sal help om hulle studies te bevorder en studieleiers beter sal toerus om hulle studente te ondersteun.” Sy sluit af: “Ons is opgewonde oor hierdie webinare en hoop dat dit in die toekoms selfs ’n groter inisiatief sal wees.”

AUTHeR nooi alle navorsers, studente en dosente op die gebied van menslike gesondheid uit om die webinare by te woon en daaraan deel te neem. Al die kursusse is gratis en diegene wat belangstel, moet so gou as moontlik registreer.

Vir meer inligting, kontak AUTHeR se Gemeenskapsgeïntegreerde Navorsingskantoor by 018 299 2512.

Vir meer inligting oor die spesifieke seminare:

1.    https://www.nwu.ac.za/date/webinar-epidemiology-public-health-theory-an…
2.    https://www.nwu.ac.za/date/webinar-learning-r-scratch
3.    https://www.nwu.ac.za/date/webinar-power-calculation-and-sample-size-op…
4.    https://www.nwu.ac.za/date/webinar-systematic-reviews-and-meta-analysis

Submitted on Wed, 08/10/2022 - 14:51