Amptelike akademiese opening fokus op die bemagtiging van uitnemendheid in 2024 en daarna

Die oorkoepelende boodskap van die hoof en visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), prof Bismark Tyobeka, was een van optimisme, dankbaarheid en vasberadenheid tydens die amptelike opening van die 2024- akademiese jaar op Vrydag 23 Februarie.

Die amptelike seremonie het op die Potchefstroomkampus plaasgevind, met ’n lewendige uitsending na die Mahikeng- en Vanderbijlparkkampus.

Prof Tyobeka het ’n diep gevoel van trots uitgespreek oor die universiteit se prestasies en sy hoogaangeskrewe status as ’n voorkeurinstelling in Suid-Afrika beklemtoon. Hy het veral die merkwaardige sukses onderstreep van die registrasietydperk vir die 2024- akademiese jaar, wat inskrywingsteikens verbygesteek het.

“Ons is bly dat talle van ons FTEN-studente (studente wat vir die eerste keer by ’n hoëronderwysinstelling inskryf) wat by ons programme aanvaar is, die room van die oes is. Ons het vir die 2024- akademiese jaar ’n gemiddelde toelatingspuntetelling van ongeveer 31,5 vir studente wat aanvaar is en 25,8 vir studente wat as gevolg van kapasiteit nie suksesvol was nie. Dit is ’n duidelike aanduiding dat ons besig is om die gehalte van studente wat ons lok, te verbeter. Dankie aan al die personeellede wat regdeur die aansoek- tot by die finale registrasieproses deel van die waardeketting vorm,” het hy gesê.

Finansiële hulp vir studente word as ’n uitdaging beskou en daar is pogings om verdienstelike studente te help en met relevante belanghebbers te skakel.

“Ons doen ons bes om akademies verdienstelike studente met beurse te help. Ons fasiliteer ook nog steeds skakeling met NSFAS en ander relevante belanghebbers om ons studente te help. Ongelukkig het ons geen sê wat NSFAS-prosesse en -stelsels betref nie, wat dit vir ons moeilik maak,” het prof Tyobeka bygevoeg.

Hy het die stabiliteit wat ons - te midde van nasionale onrus - tydens die registrasieperiode ondervind het, toegeskryf aan die proaktiewe betrokkenheid tussen die bestuur en studenteleiers, asook die volwassenheid van ons studentestrukture regoor ons kampusse. “Ons moet voortgaan op hierdie trajek vir die volwasse en verantwoordelike oplossing van kwessies.”

Navorsing en innovasie, onderrig en leer en gemeenskapsbetrokkenheid is as noodsaaklike pilare uitgelig, met ’n fokus op kapasiteitbou en samewerking. Pogings tot internasionalisering is beklemtoon, saam met gemeenskapsbetrokkenheidsinisiatiewe wat met die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte ooreenstem.

“Ek was verheug om uit te vind dat ons in 2023 altesaam 500 gemeenskapsbetrokkenheidsprojekte deur die NWU se Gemeenskapsbetrokkenheidsprogram geregistreer het. Hoewel ons finale verslag eers teen die einde van hierdie maand vrygestel word, het ons deurlopende impakmetingsinisiatiewe reeds vir ons waardevolle data van 118 projekte verskaf,” het prof Tyobeka gesê. Hy het bygevoeg dat die universiteit sal voortgaan om sy verhoudings met eksterne gemeenskapsvennote uit te bou.

Die universiteit se posisie op wêreldranglyste is beklemtoon, en ’n beroep op deurlopende verbetering is gedoen. “Die goeie werk wat ons personeel, studente en alumni doen, word op talle wyses weerspieël, insluitende erkenning deur graderingsagentskappe. Ons verskyn steeds in die boonste 4,4% van wêreldwye graderings. Dit sluit in die Academic Ranking of World Universities of ShanghaiRanking (501-600), Times Higher Education (601-800), QS World University Rankings (801-850), en die Centre for World University Rankings (nommer 7).

“Ons bedank julle vir julle bydraes wat tot hierdie graderings gelei het. Baie moet nog gedoen word, dus moet ons selfs harder en slimmer werk om ons posisie te verbeter.”

Prof Tyobeka het die belangrikheid beklemtoon om toewyding tot die posisionering van die universiteit as ’n leier in onderwys, saam met die prioritisering van die welstand van personeel sowel as studente, te behou. Hy het die noodsaaklikheid beklemtoon dat optrede met die universiteit se strategie belyn word, en die ondersteuning van gehalte-onderrig bepleit, asook dat oop kommunikasiekanale as kritieke elemente vir sukses in die akademiese jaar wat voorlê, gekoester sal word.

Prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir onderrig en leer, het op die bevordering van onderrig en leer en navorsing en innovasie in 2024 gefokus. Hy het die belangrikheid beklemtoon van gehalte en belyning in onderrig- en leer-inisiatiewe, en genoem dat deurlopende pogings aangewend word om studentesukses te verseker, met ʼn fokus op studentegesentreerdheid en die belyning van programaanbiedings regoor die kampusse.

Daarbenewens het hy genoem dat ’n nuwe studente-inligtingstelsel geïmplementeer gaan word om administratiewe prosesse stroombelyn te maak en die funksionaliteit van personeel te verbeter. “Fakulteite sal deur die loop van die jaar oor rolle en verantwoordelikhede in die nuwe stelsel gekonsulteer word, en diegene wat geraak word, sal opleiding ontvang om te verseker dat die inwerkingstelling daarvan aan die begin van 2025 glad sal verloop.”

Prof Balfour het verskeie sleutelprojekte geskets wat daarop gemik is om die kurrikulum te verbeter. Dit sluit die identifikasie van ’n nuwe leerbestuurstelsel, die faseringsgehaltebestuursprogram-projek, en die Micro-credentials in South Africa-projek in. Dié projekte is daarop gemik s om studente-ervaring en posisionering van die universiteit in die sektor en die mark te verbeter.

Daarbenewens het hy die universiteit se navorsings- en innovasie-aktiwiteite beklemtoon, insluitende pogings om navorsingsuitset te verbeter, nagraadse studente te ondersteun en samewerking met bedryfsvennote te kweek.

Lees Prof Balfour se hele toespraak hier

.....

Eagi, die NWU maskot, doen die rondte tydens die amptelike akademiese opening op die Mahikengkampus

.....

Personeel van die Potchefstroomkampus luister aandagtig tydens die amptelike akademiese opening.

......

Personeel kyk na die lewendige uitsending van die akademiese prosessie tydens die amptelike akademiese opening op die Vanderbijlparkkampus

.

.....

Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU.

....

Prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir onderrig en leer by die NWU

.

Submitted on Wed, 02/28/2024 - 11:33